DIE Kroonkiewiet Landsdiensklub van Laerskool Bredell het ‘n nonnetjiesuil-neskas van die Suid-Afrikaanse Jag- en Wildvereniging (SAJWV) ontvang.
Die neskaste is ‘n bewaringsinisiatief wat deur die SAJWV van stapel gestuur is.
“Nie net word uile se habitat deur mense vernietig nie, maar daar is ‘n ook tekort aan broeiplek vir hierdie roofvoëls. Daar word gereeld in die media berig van mense wat deur knaagdiere aangeval word. Die hoofrede is dat daar nie genoeg natuurlike roofdiere is om knaagdiere te vang nie,” sê Deon Neethling van die SAJWV.
Die SAJWV wil deur hierdie gebaar die kinders leer oor die bewaring en belangrikheid van uile in ons ekosisteem.
Die neskas sal in die tweede kwartaal by die skool opgerig word.
