HEINRICH du Preez, ‘n amateur gholfspeler, en Mej Aarde finalis, Melanie Cilliers, het Laerskool Impala besoek om leerders bewus te maak van renosterstropery.
Du Preez en sy span, saam met New Holland en die Rhino Orphanage, het ‘n projek, Golfing for Rhinos, van stapel gestuur om die 1 215 renosters wat in 2014 gestroop is, te onthou.
“Ek gaan 1 215km met ‘n trekker ry, die New Holland TD5 110 ROPS, en 1 215 houe golf speel, wat gelykstaande is aan omtrent 12 rondtes, ter herdenking aan die 1 215 renosters wat dood is.”
Hulle het op 12 Junie begin ry en hul laaste kilometers op 23 Junie afgelê. “Ons was hierdie jaar bietjie brawer en het die trekker sonder ‘n kap gevat en dit in die hartjie van die winter.”
Du Preez het die Impies vertel hoe belangrik dit is om na ‘n wildsreservaat te gaan waar daar nog renosters in die veld loop. “‘n Kind wat nou in graad 1 is gaan eendag nie meer ‘n renoster in die veld kan sien nie, maar net in dieretuine waar hulle 24 uur opgepas kan word.”
Die geld wat Du Preez en sy span ingesamel het deur elke persoon wat R100 geborg het vir 1km of een golfhou, gaan na die Rhino Orphanage waar hulle wees renosterkalfies groot maak. Elke borg se naam kom op ‘n goue plaatjie op die Rhino Wall of Remembrance in Limpopo.
Du Preez se roete het in Pretoria afgeskop en weer daar geëindig. Hy het by die volgende golfbane gespeel: Bronkhorstspruit, Witbank, Middelburg, Groblersdal, Marble Hall, Euphoria, Koro Creek, Zebula, Brits, Seasons Eco, Pecanwood, Carletonville, Westonaria, Copperleaf, Delmas, Wingate Park, ERPM, Serengeti en Woodhill.
Cilliers was ook by die projek betrokke het het bome op sy pad geplant.
Sy het vyf bome by die Impies geplant. Elke boom verteenwoordig 10 jaar van die skool se 50 jaar wat dit bestaan.

