Agtjarige red diabetiese ma se lewe
'As dit nie vir my kind was wat so dapper was nie, het ek nie vandag geleef nie'
DANIELLE Olivier (10), ’n leerling aan Oos-Rand Akademie, is op 21 Julie verras met ’n TCB Superkid-toekenning van Jakaranda FM.
Danielle se dapper optrede het haar ma se lewe gered toe sy in ’n diabetiese koma verval het, twee jaar gelede.
Jacaranda FM se The Complimentary Breakfast (TCB) vereer die “superkids” in Suid-Afrika wat die ekstra myl loop of die alledaagse take van ’n kind oorskry deur ander mense, diere of die natuur te help.
Nadat Danielle se ma, Chantelle, haar en en haar sussie Danike gaan oplaai het by die skool, het sy skielik begin sleg voel en vir Danielle gevra om langs haar te sit.
“Ek weet nie hoe ons by die huis gekom het nie, maar dank Vader ons het. Ek was reeds in ’n diabetiese koma met my suiker op 1.2,” vertel Chantelle.
Danielle, toe slegs agt jaar oud, het dadelik vir Danike gekalmeer en vir haar gesê dat mamma net ’n rukkie gaan slaap. Danielle het flink onthou wat haar ma haar gewys het om te doen indien so iets sou gebeur.
“Ek het die insulien-inspuiting gemeng en my ma daarmee ingespuit. Ek het ook grondboontjiebotter op haar lippe gesmeer. Ek is allergies daarvoor. Ek het my ma se suiker kort-kort getoets,” onthou Danielle.
Eers nadat Danielle seker gemaak het dat haar ma stabiel is, het sy haar pa geskakel om die ambulans te laat kom. Chantelle het in die ambulans bygekom.
“As dit nie vir my kind was wat so dapper was nie, het ek nie vandag gelewe nie, en dit is hoekom sy genomineer is vir ’n superkid-toekenning,” sê Chantelle.
Doepie, oftewel Jacques du Plessis van Jakaranda FM het aan Danielle ’n sertifikaat en Disney-geskenkpak oorhandig. Die geskenkpak sluit in Disney Princess DVDs, ’n Toy Story-legkaart, Frozen speelgoed en ’n bedliggie wat van kleur verander.
