Helpende Hand kuier by aftree-oord
Hulle hoop om binnekort weer 'n draai daar te maak
SOLIDARITEIT Helpende Hand Kemptonpark-tak het saam met Lenitas ’n sop-en-sjerrie-oggend by die aftree-oord aangebied.
Sop, broodjies en ’n sopie sjerrie het die bene warm gehou terwyl die eerste Orkney Snorkney-rolprent op die grootskerm vertoon is.
“Hierdie oggend was deel van ons Ouma en Oupa-projek waar ons poog om tyd saam met die ouer garde te geniet en ook saam te lag met iets wat so eie aan hul jong dae is,” het projekleier Liza Smith gesê.
“Om saam met Magda Hattingh en die res van die Lenitas-span te werk was ’n absolute plesier en ons het die suksesvolste ouma en oupa-dag nog gehad met 62 inwoners wat die oggend saam met ons kom geniet het.”
Die tak het sop gemaak en elke inwoner het ook sop en broodjies huis toe geneem.
“Ons hoop om in die nabye toekoms weer saam met Lenitas te werk,” het Smith gesê. Die tak wil graag Activate Change Drivers bedank wat die huur van die projektor, om die rolprent mee te vertoon, moontlik gemaak het.
