Local newsNews

Boelie-video: Jeugland-meisie is nie geboelie nie

Beide die departement en beheerliggaam het wel die kommer uitgespreek oor 'n kind soos hierdie wat so moeg is en so vas in die klas slaap

BEIDE die departement van onderwys en Hoërskool Jeugland se beheerraad het beslis dat die “boelie-video”, wat laasweek op sosiale media versprei is, nie boelie is nie.

Dr David Morris, skoolhoof van Jeugland, het in ‘n verklaring aan EXPRESS gesê: “Ek het die saak by die departement van onderwys aangemeld en hul kundiges het my by die skool besoek.

“Ek het die video aan hulle vertoon en hul beslissing is dat dit nie boelie is nie. Die skool se beheerliggaam het ook ‘n spesiale vergadering oor hierdie saak gehou en daar is ook eenparig besluit dat dit nie as ‘n saak van boelie hanteer sal word nie.

Lees ook:

• Jeugland bullies send bully video to their victim

“Beide die departement en beheerliggaam het wel die kommer uitgespreek oor ‘n kind soos hierdie wat so moeg is en so vas in die klas slaap,” het Morris gesê.

“Deur die loop van hierdie jaar het ons skool hierdie gesin ongelooflik ondersteun en bygestaan. Die kind het eers op 19 Mei na ons skool gekom. Nadat sy hier ingeskryf het, het hulle huis afgebrand. Die skool, wat haar klasmaats insluit, het hande gevat en meubels, kos, klere, ensovoorts ingesamel om hul las te help verlig.

“Op 3 Augustus het die kind se ma haar graadhoof kom spreek oor die feit dat kinders (geen name is genoem nie) opmerkings oor haar voorkoms gemaak het en dit haar ongemaklik laat voel het. Die graadhoof het die volgende dag na die klas gegaan en die klas teen op- en aanmerkings gewaarsku en samewerking gevra om hierdie kind so tuis moontlik te laat voel.

“Dit was die laaste wat die skool in hierdie verband gekontak is en geen verdere klagtes is ontvang nie. Die volgende oomblik ontvang ek ‘n e-pos van Express en van die ma, saam met ‘n video wat reeds op sosiale media versprei is.

“Ek is jammer die ouer het nie na die voorval die skool kom spreek nie. Ek het haar wel uitgenooi, maar sy het die uitnodiging van die hand gewys. Omdat ons hulle hierdie jaar reeds so baie ondersteun het, sou ons verwag dat daar ‘n groter vertrouensverhouding met die skool sou wees.

“Ons beheerliggaam het besluit dat die ouer steeds meer as welkom is om met ons te kom praat en dat ons van die skool se kant af bereid sal wees om beradingsessies te reël, indien dit nodig is om hierdie kind emosioneel te ondersteun en te versterk. Ons het egter verneem dat sy na ‘n ander skool gaan en dat hulle verhuis,” het Morris gesê.

“Bewusmaking teen boeliery geniet gedurig aandag by ons skool. Ons het hierdie jaar byvoorbeeld ‘n artikel, wat in die media verskyn het, oor die hele aangeleentheid, met die skool bespreek.

“Elke kind in die skool het ‘n afskrif daarvan ontvang. In ons lewensoriënteringklasse word ook hieroor gepraat en voorbeelde van artikels, wat in die pers verskyn, word aan leerders vertoon. Net soos rook in skoolklere, geniet boeliery voortdurend aandag en word daar opgetree teen diegene wat hulself daaraan skuldig maak,” het Morris gesê.

Die kind se ma het aan Express bevestig dat haar dogter nou tuisonderrig ontvang.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button