Dramaskool hou Oscar-aand
Die leerders het op die rooi tapyt ingestap en ’n Oscar-beeldjie ontvang vir hul puik prestasies
DIE Akademie vir Dramakuns het op 14 November ’n Oscar-aand vir al sy studente gehou.
Die aand se verrigtinge het Hollywood na Kemptonpark gebring en die studente het by die saal op ’n rooi tapyt met kameras wat flits ingestap.
Die studente is met ’n Oscar-beeldjie beloon vir hul harde werk vanjaar en hul puik prestasies by redenaarskompetisies en die kunswedstryd.
Xanthus Matthee het ’n tweede plek by die ATKV landsfinaal behaal en was die wenner by die kunswedstryd in die Afrikaanse afdeling vir graad vyf. Hy het ook ‘n tweede plek behaal by die Super 12 Redenaars in Pretoria en is aangewys as die algehele wenner vir Afrikaanse redenaars in die senior afdeling by Laerskool Kruinsig.
Hy het ook ’n toekenning vir akademie ontvang en ’n erepenning vir redenaars. Hy is ook op die top 10 kultuur vir 2015.
Megan Smith was die algehele wenner in die vokale afdeling vir graad vier en is ook by Laerskool Kruinsig aangewys as algehele wenner in die Engelse redenaars se senior afdeling, top 10 kultuur en het ’n erepenning vir redenaars, erekleure vir akademie, sowel as ’n hertoekenning vir kunswedstryd en koor ontvang.
Damion Stolz was die tweetaligheidswenner vir graad vyf by die kunswedstryd.
ChaunD du Plessis is in die akademiese top 10 en het ook verskeie items by die kunswedstryd gewen en by die Nasionale Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste ’n silwer medalje verower. By die East Rand Dance Festival is hy beloon as pre-amateurwenner en het ’n kort rol in die rolprent “Passage’’ as Timmy vertolk.
Kochelle Pelser, Berrie Kruger, Angelique van der Berg, Cherlize van der Berg, Marcelle Cordier, Danelle Pryor, Herman en Teo Hafenscher, Rudeker Matthee, Dane Prinsloo, Lize von Gericke, Elze en Helgard Stadler, Diante du Plessis, Nico Kleynhans, Wessel en Chante du Bruyn en Xander en Lourens Terblanche het puik presteer en het prestiges ontvang by die kunswedstryd en redenaars.
“Ons is baie trots op Nadiya Geldenhuys wat die grootste beurs in Suid-Afrika by die New York Film Academy ontvang het. Nadiya vertrek aan die einde van die jaar na Amerika om haar studies daar voort te sit,” sê Hettie Kritzinger van die Akademie vir Dramakuns.
Armand Britz het ook ’n sertifikaat ontvang vir sy prestasies as eerstejaar-lisensiaatstudent.
Elke leerder het ook ’n sertifikaat vir puik prestasie op die gebied van kultuur ontvang. Die Akademie spog ook met twee hoofmeisies vir 2016, Angelique van der Berg van Laerskool Edleen en Elze Stadler van Laerskool Birchleigh.
“Die ouers verdien ook elkeen ’n Oscar vir hul puik ondersteuning,” sê Kritzinger.
