Local newsNews

Familie en vriende groet vermoorde ouma

Sy het die Bybel geken, was 'n persoon van gebed en het Bybelverse uit haar kop geken

“ONS is hartseer, en ook met reg bitter, maar met die Here se groot genade glo ek dat Hy vir ons berusting sal bring.”

Dié woorde kom uit die huldeblyk van Heila Snyders, die vermoorde Annatjie Stassen (78) se skoonsuster, wat in Stassen se begrafnisbrief vervat is.

‘n Gedenkdiens vir Stassen is Dinsdag deur dr Danie Malan vanuit die NG Gemeente Kempton-Kruin gelei.

Stassen se seun, Gideon (43) en sy vriendin, Chantelle Justine Minnott (31), word van haar moord verdink. Hulle het Woensdag, ‘n dag na die begrafnis, weer in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

Lees ook:

• Stassen death: son allegedly claimed he pushed his mother

• Police find grandmother’s body

Tydens die diens is baie mooi dinge van Tannie Annatjie genoem, waaronder haar groot geloof. “Die kerk was haar huis. Hier het sy veilig gevoel,” het dr Malan gesê.

‘n Goeie vriend, Filip Fourie, het in sy huldeblyk Tannie Annatjie geloof vir haar goeie sin vir humor en goeie natuur. “Annatjie was maar net Annatjie, sy was ‘n goeie vriend,” het Fourie gesê.

Sy het die Bybel geken, was ‘n persoon van gebed en het Bybelverse uit haar kop geken.

Fourie het ook verwys na die kere wanneer sy haar seun verdedig het, haar passie vir plante en haar liefde vir gospel en klassieke musiek, wat sy met haar oorlede man gedeel het.

Lulu Pieterse, voorsitter van Kemptonpark Vroue Landbou-Unie, het in haar huldeblyk geskryf: “Ons het haar geken as ‘n rustige, saggeaarde lid wat haar naaste se belange op die hart gedra het. Sy was ‘n voorstander van reg en geregtigheid.

“Dit is goed om te weet dat haar beste VLU-vriendinne ook vir haar kon ondersteun, juis in die tye toe sy onderskraging, liefde en bystand nodig gehad het.,” het Pieterse geskryf.

Tannie Annatjie het in 2004 by die VLU aangesluit en vir vier jaar ook op die bestuur gedien. Sy was ‘n kranige bakster wat verskeie toekennings ontvang het. Sy het graag aan tuinboukompetisies deelgeneem.

“Haar plek is leeg en ons sal haar beslis mis, maar ons gun haar die rus en vrede by Jesus en ons glo ons sal mekaar weldrae weer sien,” het Snyders geskryf.

Tannie Annetjie is op 18 November deur familie en vriende as vermis aangemeld. Haar lyk is op Sondag, 22 November in ‘n veld in Bronkhorstspruit gevind.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button