Oud-sakevrou (76) van Kemptonpark oorlede
Haar diens is deur haar seun, Past Kobus Mocke, waargeneem
BESSIE Mocke (76), ‘n oud-inwoner en sakevrou van Kemptonpark, is op 14 Januarie in Midvaal Privaat Hospitaal dood na ‘n kort siekbed.
Sy is op 19 Oktober 1939 in Kemptonpark en het onder meer by Laerskool Kreft skoolgegaan.
Sy is in Maart 1957 met Seeff Mocke getroud. Hulle het eers op ‘n plaas, Natalia, in die Frankfort-omgewing gebly voordat hulle na Kempton verhuis het. Die egpaar het eers in Bapsfontein en daarna in Bredell gebly.
Hulle het vanaf die laat vyftigerjare tot 1992 verskeie besighede in Kemptonpark gehad. Die eerste was Rand Motor Spares in Pretoriaweg. Die onderneming het daarna na Planeweg in Spartan geskuif, waar hulle ook Mocke Auctioneers begin het.
Bessie het ‘n antieke winkel, genaamd Dixie Bargains, in die tagtigerjare bedryf. Dit was in die Esperanto-sentrum waar die burgersentrum vandag geleë is.
Die egpaar het in 1992 afgetree en na hul plaas in Frankfort teruggetrek. Hulle het ook verskeie besighede daar gehad, waaronder n slaghuis, motorband- en onderdelewinkel.
Haar diens is vanuit die EG Kerk Frankfort deur haar seun, Past Kobus Mocke, waargeneem.
Bessie laat haar man, vier seuns (Kobus, Andri, Riaan, Walter), 18 kleinkinders en drie agterkleinkinders na.
