Impala se vliegtuie spog met ‘n nuwe baadjie
Bazocchi het destyds versoek dat een van die vliegtuie as 'n trofee gebruik word
NA 46 jaar het Laerskool Impala drie Impala-modelvegvliegtuie wat die skool in 1970 ontvang het, gerestoureer.
Die vliegtuie spog nou met ‘n splinternuwe verflaag, die krake is reggemaak en nuwe plakkers is opgesit.
Die werk is deur Michael Beldon, oorspronklik van Port Elizabeth, gedoen.
Beldon is ‘n kenner op die gebied van modelvliegtuie en besit 40 van sy eie. Hy is tans besig met nege ander projekte, waarvan die koste van R1 500 tot R300 000 beloop.
Hy het die skool ‘n minimale bedrag gevra om hul vliegtuie reg te maak. Die herstelwerk het sowat vier maande geneem om te doen.
Die vliegtuie is afkomstig van Aeponautica Macchi Varese in Italië en daar is ‘n baie interessante geskiedenis daaragter.
Dr Ermanno Bazocchi, wat die Impala vegvliegtuig ontwerp het, het tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika ‘n leerder van Impala raakgeloop. Op sy kleurbaadjie het hy die skool se wapen met ‘n Impala-vliegtuig daarop gesien en was aangenaam verras.
Daar en dan het hy besluit om die skenking van die modelvliegtuie aan die skool te maak.
Twee van die vliegtuie staan in die personeelkamer. Die derde een, wat elke jaar tydens die skool se prysuitdeling aan ‘n leerder oorhandig word, is in die hoof, Theo Gouws, se kantoor. Impala se leerder van die jaar ontvang dié torfee.
Bazocchi het destyds versoek dat een van die vliegtuie as ‘n trofee gebruik word.
