“MA’AM, I gave him a hard time.”
Met dié woorde het ‘n o/15 skaakspeler van Panorama, Hope Tsimane, een van sy onderwysers met ‘n glimlag begroet nadat hy, tydens die Gauteng LSEN Skoleskaaktoernooi, sy alles gegee het.
Die feit dat hy verloor het, het nie saak gemaak nie – net om deel van die toernooi te wees het sy dag gemaak.
Panorama was een van agt skole, met 192 spelers, wat op 15 April aan die toernooi deelgeneem het. Elke speler het vyf rondes gespeel en met elke nuwe ronde het die kompetisie strawwer geword.
Die leerders het hul beste gedoen en met uitstekende sportmanskap gewen en verloor.
Sewe van Panorama se leerders het in die top 10 in hul onderskeie ouderdomsgroepe geëindig. Van 47 o/19 spelers was Tumisho Borake vierde.
Daar was 84 o/17’s waarvan Divan Brink sesde en Tiisetso Molema sewende was.
Die skool se o/15’s het baie goed gevaar. Uit 61 spelers was Leslie Ramala eerste, Lesego Bambo vierde, Linda Kubeka sewende en Hope Tsemane in negende plek.
