ONS leef in ’n tyd waar misdaad hooggety vier, waar kinders nie meer in die straat kan fietsry nie, waar mense en eiendom agter hoë mure en elektriese heinings verskuil word.
Skole is sagte teikens vir misdaad waar inbrake en misdrywe teen kinders ’n hoë risiko geword het.
Laerskool Impala het sedert 2014 navorsing gedoen oor die impak van sekuriteitskameras by ander skole en sou aanvanklik slegs 16 kameras op strategiese plekke op die skoolterrein plaas.
Die gebiede wat vir die kameras geoogmerk was, was stoepe, trappe, toegangshekke en ’n paar plekke waar soms boeliegevalle voorkom.
Louis Janse van Rensburg het Laerskool Randhardt in Alberton besoek as deel van sy navorsing. Die impak van die kameras by Randhardt het sy opinie verander.
Hy het aanbeveel dat die skool ernstig moet kyk om ook kameras in klasse, op die speelterrein en by sportvelde te installeer. Die beheerliggaam het die voorstel goedgekeur.
Martin Bester, hoof van veiligheid op die beheerliggaam, en Janse van Rensburg het ’n voorlegging aan die beheerliggaam gedoen en tans is daar 120 kameras op die terrein en in klaskamers.
Impala het ook ’n ooreenkoms met ’n sekuriteitsmaatskappy om ’n aantal strategiese kameras aan die reaksiemag te koppel sodat die skool 24/7 gemonitor kan word. Die kameras kan lewendig gemonitor word en daar kan direk uit die kantoor met die personeel en kinders in die klasse gepraat word.
Klank is beskikbaar op al die kameras in die klasse. Die kameras is bewegingsensitief en maak net opnames wanneer daar beweging plaasvind. Beeldmateriaal wat opgeneem word, is tot sowat ses weke na die opname beskikbaar.
“Video-insetsels” van voorvalle wat ondersoek word, word veilig op ’n stokkie bewaar. Die hoof, Theo Gouws, Janse van Rensburg en die graad R-sentrum beskik oor geriewe om die kameras te monitor.
“Impala het reeds ’n aantal voorvalle hanteer waar ons van die kameras gebruik gemaak het om dit suksesvol op te los. Die kamerastelsel word binnekort uitgebrei met nog kameras in sekere gebiede waar ons leemtes ontdek het,” het Gouws gesê.
