DIE graad drie klas van juffrou Liza en graad sewe klas van juffrou Andolene, van die Laerskool Van Riebeeckpark, het hul harte oopgemaak om verskeie gesinne te help met kos, toiletware, klere en komberse.
Kemptonparkers Reborn reik uit na behoeftige gesinne in die stad.
Liza Mocke, organiseerder van die organisasie, sê: “Ons het op die oomblik agt gesinne wat ons op ‘n weeklikse basis help met kos en klere. Ons maak weekliks sop wat ons saam met brood en blikkieskos aflaai. Ons kry ‘n weeklikse skenking van brood van ‘n vrou van Maranatha-kerk.
“Ons het onlangs ook ‘n bakkie vol klere, skoene en ‘n bed in Boksburg-Noord afgelaai, waar 10 gesinne in kamers bly.”
Volgens Karien Theunisen, ook ‘n organiseerder, staan hulle ook ‘n gesin by wat in ‘n karavaan bly.
“Reborn het al drie seuntjies onder die ouderdom van vyf in ‘n kleuterskool gesit waar hulle ook kos huis toe kry en by die skool gebad word,” vertel sy.
”Hulle klere word ook by die skool gewas.”
Reborn se groot behoefte is kos soos blikkieskos, rys, pasta, pap, tee, suiker, olie en klere, en die Riebies het saamgestaan om te help.
