LAERSKOOL Van Riebeeckpark se koor is nog ’n plaaslike skoolkoor wat na die grande finale van Sing in Harmonie deurgedring het.
Tydens hul optrede in dié kykNet NOU-program het hulle die louere met Constantiapark gedeel. Die ander deelnemende kore was Pierneef en Woodhill College.
Bykans 90 skoolkore landwyd ding mee om prysgeld ter waarde van R178 000.
Al die wenkore sal later vanjaar te sien wees in die grande finale op 24 en 25 September by die Silver Star Casino Globe in Krugersdorp. Gaskunstenaars insluitend Karlien van Jaarsveld, Joe Foster en baie meer sal die verhoog met hulle deel.
“Dit was vir ons ’n baie groot eer toe hulle ons naam aankondig dat ons deur is na die finaal toe. Ons is so bevoorreg om deel te kan wees van die kompetisie,” het Gert Pottas, dirigent van die Riebie-koor, gesê.
Die reeks se uitvoerende vervaardiger en aanbieder, Anthonie Bougas, is beïndruk met die talent wat vanjaar navore kom.
“Sing in Harmonie is die eerste kompetisie wat vir laerskoolkore regoor Suid-Afrika die kans bied om op nasionale TV hulle merk te maak en in die proses hul deel van R178 000 se pryse los te slaan,” het Bougas gesê.
Inskrywings is tans oop vir 2017.

