DIE KykNET-span van die bekende program, Uitblinkers, het Laerskool van Riebeeckpark in Augustus besoek.
Dié nuwe skole-talentreeks het gedurende die derde kwartaal nege skole in die Noordelike streek van Suid-Afrika geïdentifiseer om deel te wees van hul program en die Riebies was bevoorreg om een van dié skole te wees.
Die konsep is presies wat dit sê. Uitblinkers op alle gebiede by die skool kry die geleentheid om hul merk op nasionale televisie te maak. Die Riebies het groot pret gehad saam met die kykNET-span en kon die hele land meer oor hul skool vertel.
Hulle het die geleentheid gehad om ‘n bekende kunstenaar vrae te vra, te spog met kultuuritems en het selfs aan die Solis vir Christus-kompetisie deelgeneem waar Savannah Jacobson (graad 6) en Michael Mans (graad 7) gekies is om aan die landswye kompetisie deel te neem.
Die reeks bied uitgesoekte skole ‘n reklame-geleentheid en hope blootstelling vir hul leerders. Elke skool ontvang ‘n volle uur lugtyd op televisie met drie herhalings.
