’n Jong krieketspan van Tembisa glimlag breed en het nuwe ywer vir die spel nadat hulle meer as genoeg kriekettoerusting van ’n Kemptonparkse laerskool ontvang het.
Laerskool Impala en sy skoolgemeenskap het hulle harte wyd oopgemaak om hierdie gekombineerde laerskoolspan van Tembisa te help.
Die span is uit spelers van verskillende laerskole in Tembisa saamgestel en verteenwoordig dié woongebied in die Kemptonparkse laerskole-krieketliga.
“Ondanks die feit dat die span oor gebrekkige toerusting en geriewe soos ’n kolfblad beskik, het die afrigter en seuns ’n oorvloed aan passie, entoesiasme en ywer,” het Theo Gouws, hoof van Impala, gesê.
“Die gesindheid van die manne van Tembisa het in die harte van Laerskool Impala se afrigters, spelers en ouers gekruip die dag toe hulle kragte gemeet het op Impala se velde.”
Deur die visie van Gouws, die sporthoof Christiaan Fourie, krieketafrigters en ouers van die skool het hulle binne ’n kort tydsbestek meer as genoeg uitrusting bymekaar gemaak om die Tembisa gekombineerde krieketspan van toerusting te voorsien. Baie nuwe en gebruikte toerusting soos kolwe, balle, beenskutte, handskoene en helmets is deur milde skenkings ontvang.
Gouws het tydens ’n spesiale geleentheid by Impala die toerusting aan die afrigter van die span, Michael Rampheng, en hulle kaptein, Nyiko Kubayi, oorhandig. Hulle het die toerusting met groot dankbaarheid ontvang.
“Hiermee wil Laerskool Impala nie net ’n beskeie bydrae lewer om krieket in ons streek te bevorder nie, maar ook om seuns wat besig is om ’n liefde vir krieket te ontwikkel, se harte warm te laat klop,” het Gouws gesê.
