Impies stig klub vir hulle ‘alleen-seuns’
Die seuns word geïdentifiseer en uitgenooi om aan die klub te behoort
’n Spesiale klub vir seuns sonder ’n vaderfiguur by die huis is by Laerskool Impala in die lewe geroep.
Die klub, wat bekend staan as die Gentleman’s-klub, is daarop gemik om hul jong lede aan aktiwiteite bloot te stel wat deur die manspersoneel hanteer word.
Volgens Theo Gouws, hoof van die skool, is die klub eksklusief vir seuns wat geen vaderfiguur by die huis het nie. Die seuns word geïdentifiseer en uitgenooi om aan die klub te behoort.
Elkeen ontvang ’n lidmaatskapkaart met sy naam daarop en neem dan deel aan aktiwiteite gemik op die rol van die pa in die gesin. Aktiwiteite wissel van leersame pa/seun-gesprekke tot avontuurlike aktiwiteite soos visvang.
Dié aktiwiteite word elke tweede Vrydag of Saterdag aangebied en sluit in skyfskiet, visvang, sterrekyk, kampvuurkonsert, staproetes, bergklim en bergfietsry. Die avontuurlike aktiwiteite word afgewissel met opvoedkundige praatjies uit ’n pa en seun se oogpunt.
Die klub staan onder leiding van Louis van Rensburg en Derek Steffens en hulle maak gebruik van die dienste van die manspersoneel om aktiwiteite vir die seuns aan te bied.
Die klub het op 9 September afgeskop met lesse in veilige wapenhantering. Die seuns kon vir die res van die middag met windbukse skyfskiet. Tydens die volgende aktiwiteit is daar met die seuns oor manlike etiket gesels.
