Local newsNews

VIDEO: Jongspan word Super Heroes by kerk se kindernaweek

Die naweek was propvol opwindende opvoedkundige aktiwiteite

DIE NG Kerk Kempton-Kruin het sy jaarlikse kindernaweek vanaf Vrydag tot Sondag gehou.

Die tema vir die naweek was Super Heroes en die idee agter dit was om ’n interessante en prettige manier te vind vir kinders om Jesus op te hef.

Sien nog foto’s hier

“Die kinders het die naweek spandeer deur te leer hoe om ‘superheroes’ vir Jesus te wees,” het ds Michelle van Tonder verduidelik.

Die naweek was propvol opwindende opvoedkundige aktiwiteite en Erich Posthumus het van die vermaak verskaf.

Vrydag het afgeskop met Christelike sanger Clarice en die Reënboog wat vir die kinders kom optree het. Daarna het hulle fliek gekyk en speletjies gespeel.

’n Paar families het tente in die kerk se tuin opgeslaan om daar te oornag, terwyl ander ouers huis toe gegaan het.

Die volgende dag het die kinders aan verskillende aktiwiteite deelgeneem. Meer as 200 kinders is in spanne opgedeel en moes die eerste fase voltooi waar hulle ’n kenteken ontvang het met voltooing van die opdrag.

By die eerste “stasie” was gebed en Bybelstudie aan die orde van die dag.

Gedurende die tweede aktiwiteit moes die kinders ham en kaas-toebroodjies maak wat aan MES geskenk is.

Die derde deel was ’n talentkompetisie waar die kinders opdrag gekry het om ’n kort toneelspel op te voer van ‘n hedendaagse Bybelstorie met ’n “superhero twist”.

In die finale rondte was die kinders se fisiese krag op ’n klein hindernisbaan getoets.

Saterdagmiddag het almal saam met hulle families gebraai en om die naweek behoorlik af te sluit, het hulle ’n kerkdiens gehou.

Vanjaar was die sesde jaar wat die naweek aangebied is. Van Tonder was in beheer van die beplanning van die aktiwiteite terwyl ds Schalk Basson die ouers se aktiwiteite gereël het. Die ouers het Saterdagoggend ’n dagseminaar geniet wat deur Tom en Lollie Smith aangebied is.

Kyk na video en nog foto’s op www.kemptonexpress.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button