NewsSchools

Riebies se skouspel sal lank onthou word

Pleks van brand, laat ons bou. Pleks van praat, laat ons doen!

LEGENDARIES. Epies. Só kan Laerskool Van Riebeeckpark se musiekproduksie, Legacy, beskryf word wat van 20 tot 22 Oktober by Kaleideo aangebied is.

Dié produksie, wat as hoogtepunt van die skool se dertigste bestaansjaarviering aangebied is, het die sowat 3 000 gehoorlede nie net op hul voete nie, maar ook behoorlik aan die saamsing gehad.

Bykans 700 Riebie-leerders het die verhoog met vermaaklikheidsterre soos Joshua na die Reën, Brandon October, Corlea Botha, MoniQue en oudhoofleier van Laerskool Van Riebeeckpark en Hoërskool Jeugland, die aktrise Leandie du Randt, gedeel.

Legacy is, benewens voetstamplekker sang en dans gekenmerk deur klank, beligting en vuurwerke wat by enige grootskaalse musiekproduksie kan kers vashou.

Die spesiale dekor tot hoë gehalte orkesverwerkings, oudiovisuele beelde, kostuums en professionele choreografie het verseker dat die Riebies ’n standaard gestel het wat moeilik getroef sal kan word.

“Geen skool het tot nog toe ’n produksie van dié skaal en omvang aangebied nie,” het Vivian Botha, Riebie-skoolhoof, gesê.

LEGENDARIES. Epies. So word Laerskool Van Riebeeckpark se musiekproduksie, Legacy, beskryf.
LEGENDARIES. Epies. So word Laerskool Van Riebeeckpark se musiekproduksie, Legacy, beskryf.

“Nie net kon ons die skool se verjaarsdag op ’n skouspelagtige wyse vier en met die Riebies se talentskatkis spog nie, maar ons het op die koop toe opnuut gewys watter ongelooflike geleenthede en platvorm Laerskool Van Riebeeckpark vir sy leerders skep.

Volgens Julie Ruthven, Riebie-opvoeder, choreograaf en kreatiewe hoof van Legacy, was die bykans 14 maande se beplanning en nege maande se oefening meer as die moeite werd.

“Van die skaamste graad R-leerder tot ons graad 7’s het die geleentheid gekry om die wonderwêreld van vermaak te ervaar en die verhoog met van ons land se beste kunstenaars te deel.

“Benewens die temalied, Legacy, wat spesiaal deur Joshua na die Reën geskryf is, het liedjies soos Karoonag, Wind beneath my Wings, Spore, Dis ’n land, Lig op die Horison, Agter elke man, Voshaarnooi, Barcelona, Glory of Love en We are the World die gehoor op ’n nostalgiese musiekreis geneem. Ek glo Legacy gaan vir baie jare nog in die harte van elke opvoeder, ouer en kind weerklink,” het Ruthven gesê.

Volgens Botha het Laerskool Van Riebeeckpark as deel van sy feesjaar ook 30 Goeddoenprojekte aangepak. Nie net is bloedskenkaksies gehou en sopkombuise beman nie, maar duisende rande se kos, klere en ander lewensnoodsaaklikhede is ingesamel en aan behoeftige organisasies in die gemeenskap geskenk.

“Dit is belangrik dat ons kinders van kleins af geleer word om ’n verskil te maak. Die dae is verby dat ons bloot sit en wag dat iemand anders omgee. Eindelik is ons boodskap met Legacy eenvoudig: Almal moet saamwerk en aan ’n nalatenskap bou, sodat ons kinders en húl kinders die vrugte – vry, veilig en voorspoedig – aan die suidpunt van Afrika kan pluk. Pleks van brand, laat ons bou. Pleks van praat, laat ons doen! Die tyd om ’n verskil te maak is nou en die verantwoordelikheid is ons s’n,” het Botha gesê.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button