Local newsNews

Kempton AfriForum-buurtwag hou massapatrollie

Die massapatrolie was gehou om polisiëringsigbaarheid op te skerp

AFRIFORUM se Kempton Park buurtwag het op 4 November ’n massapatrollie in die stad gehou om polisiëringsigbaarheid op te skerp.

’n Totaal van 53 buurtwagpatrolleerders, insluitend lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), asook lede van die Birchleigh-groep het opgedaag om hand by te sit en 3 975km is afgelê.

Die burgerregte organisasie, in samewerking met MML Sekuriteit, Alpha Sekuriteit, ER24, die metropolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens het gehelp om die dag ’n sukses te maak.

“Dit was ’n reuse sukses en dis vir my ’n riem onder die hart om te sien dat verskeie groepe bymekaar kon kom om saam te werk en misdaad te bestry,” het Jan Vermaak, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Kempton Park, gesê.

Die AfriForum-buurtwag se gemeenskapsreaksie-eenheid (GRE) het selfs na Primrose deurgery om die plaaslike AfriForum-buurtwag te ontmoet. Hierdie GRE-span kon daarin slaag om die enigste arrestasie van die aand te maak nadat hulle ’n oproep ontvang het oor ’n verdagte voertuig wat moontlik by ’n rooftog betrokke was. Die verdagte is deur ’n militêre polisiesersant aangekeer, waarna die GRE-span en die SAPD ontbied en die arrestasie uitgevoer is.

“Ons kon die tegnieke wat ons met krav maga aangeleer het tot ons voordeel gebruik. Ons wil almal bedank wat bygedra het om die projek suksesvol af te handel,” het Vermaak gesê.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap van Kempton Park om betrokke te raak by die plaaslike tak en aktief deel te neem aan die aktiwiteite van die buurtwag.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na afriforum.kemp@gmail.com of SMS “Buurtwag” na 45342 teen R1 per SMS.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button