Sluit aan by die Vriende van die Biblioteek
Die gelde gaan alles vir die aankoop van boeke vir die verskillende biblioteke

DIE Vriende van die Kempton Park Biblioteke was soos gewoonlik vanjaar bedrywig met gemeenskapsprojekte en nooi almal uit om deel te word van die pret.
Ledegeld is slegs R30 per jaar en sluit in aktiwiteite in soos scrapbooking, leeskring, kaartjies maak, handwerk en boonop ook drie nuusbriewe ‘n jaar.
Die gelde gaan alles vir die aankoop van boeke vir die verskillende biblioteke en die broodnodige fondse laat die Vriende toe om heelwat meer boeke aan te koop wat aan almal ’n beter leeservaring gee.
“Kyk uit in die biblioteke, op die eerste bladsy is ’n klein kennisgewing wat sê ‘Donated by the Friends of the Kempton Park Libraries,” het Marthie Duminey, een van die Vriende, gesê.
“Ons het gedink om meer mense toegang te gee tot dieselfde ervarings en daaruit kan heerlike stokperdjies ontwikkel wat jou dalk heelwat geld kan bespaar en die genot van iets wat self gemaak is, is onkoopbaar.”
Vir meer inligting of enige idees en voorstelle, kontak een van die volgende persone in jou area: Cora Moolman by 011 999 4124 (Birchleigh), Marietjie Macnamara by 011 999 4410 (Birchleigh-Noord), Florence Mdluli by 011 999 3235 (Bonaero Park), of Neil Sahadeo by 011 999 3739 (Kempton Park).
