Local newsNews

Spesiale program word vir 16 Desember beplan

Die onthulling van die Geloftemonument en plaat sal ook plaasvind

VANJAAR se Versoeningsdagvieringe in Kemptonpark is baie spesiaal en daarom word ’n besonderse program vir 16 Desember vir die gemeenskap beplan.

Dit is die 100ste herdenking van die Geloftefees in Kemptonpark, die 178ste Groot Trek-herdenking en die 85ste bestaansjaar van die Voortrekkers.

Dit het die Voortrekkers en die Geloftefeeskommissie bymekaar gebring om iets spesiaal op te dis.

Op 16 Desember om 8vm word daar by Laerskool Impala se pawiljoen, langs Woepel Doepel Kultuur-sentrum in Rooiboslaan, Allen Grove, ’n geloftediens in die vorm van ’n dankdiens gehou. Die geleentheid word gesamentlik deur die Voortrekkerbeweging en die Geloftefeeskommissie aangebied.

DIT was swaar trek teen die steil bulte uit.
DIT was swaar trek teen die steil bulte uit.

Ds Hannes Janse van Rensburg van die Zuurfontein-gemeente sal die dankdiens lei, waarna die oordleier van Oosvaal Voortrekkers, Josua du Plessis, meer oor die simboliek van die ossewa sal vertel, terwyl Voortrekkers ’n ossewa in minder as 15 minute sal monteer.

’n Kollekte ten bate van Allenpark sal gedurende die diens opgeneem word.

Die ossewa sal daarna deur Voortrekkerkinders tot by die monument getrek word, waar die skoolhoof van Hoërskool Kemptonpark, Roelf Burger, die gelofte vanaf die ossewa sal voorlees.

Die onthulling van die Geloftemonument en plaat, asook die wegbêre van boodskappe in ’n tydkapsule, sal ook daar plaasvind.

Die Frik Swanevelder en Gesin-kakebeenwa is gerestoureer vir deelname aan die verrigtinge, terwyl die Voortrekkers die Geloftemonument gerestoureer het.

Verversings word na die tyd aangebied.

Alle belangstellendes word genooi om deel van hierdie besondere program te wees. Die program sal om 10vm afgehandel wees.

Vir meer besonderhede, skakel Pieter Nel by 083-770-3448.

As deel van ‘n besonderse jaar in die Voortrekkerbeweging se geskiedenis, het verskeie Voortrekkers van Kemptonpark vroeër vanjaar deelgeneem aan die grootste trek oor die Drakensberge sedert die Groot Trek 178 jaar gelede.

Volgens dr Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, het Piet Retief op 5 Oktober 1837 daar afgetrek met vier waens op pad na Koning Dingaan. Sy trek het hom op 14 November gevolg nadat hulle die nuus ontvang het dat Dingaan grond belowe het.

Volgens Du Plessis, die trekorganiseerder, was die tog 13.4km ver, maar wat die murg in die pype van die Voortrekkers-jeug getoets het, was die steiltes waarteen hulle die waens moes op- en afsleep.

Vir almal wat saamgetrek het oor die Drakensberg het dit weer eens bewys dat die moderne Voortrekkers van vandag nog steeds die murg in hulle pype het om nuwe spore te stap in ons wonderlike land.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button