Local newsNews

Stad se ‘ystervrou’ sterf op 76

‘n Gedenkdiens om haar lewe te vier word op 10 Desember om 2nm by die NG Kerk Kempton-Kruin gehou

DR Tersia King, ‘n bekende in politieke kringe in die stad jare gelede, is Sondag in Kaapstad in die ouderdom van 76 jaar oorlede.

Sy was sedert 1959 ‘n inwoner van die stad en kan tereg beskryf word as die stad se eie Ystervrou.

Sy sal veral onthou word vir haar bydrae as stadsraadslid en later lid van die Parlement. Sy was egter veel meer as ‘n politikus en laat ‘n interessante spoor van betrokkenheid by ‘n wye verskeidenheid van organisasies deur die jare.

King was lid van die Operettegroep in die vroeë sestigerjare, onderwyseres by onder meer Hoërskool Kempton Park en Sir Pierre van Ryneveld High, betrokke by die bestuur van die VLU in die Oos-Randstreek, asook toegewy aan die stigting en uitbreiding van die Suiderkruisfonds.

Sy was ook aktief by die Oos-Randse Vereniging vir Huweliks- en Gesinsorg, lid van Kempton Park Kommandoraad, Voortrekker-offisier by Impala Kommando en stigter en eerste president van die Sake- en Beroepsvroueklub van Kempton Park.

Later jare was sy ook op die bestuur van die Raad vir Bejaardes en self ‘n inwoner in een van die komplekse geaffilieer met Allenpark.

Dit was in haar DNA om onverskrokke ‘n verskil te maak in haar omgewing. Sy neem die inisiatief in die vestiging van die Oos-Randse Beskermde Werkplek vir Verstandelik Gestremdes en ‘n vaardigheidsopleidingsentrum in Tembisa in die tagtigerjare.

Haar grootste bydrae was sekerlik op die gebied van onderwys en spesifiek in die totstandkoming van twee privaatskole, Tersia King Learning Academy in Hospital View, wat hierdie jaar sy 25ste bestaansjaar vier, en Oos-Rand Akademie, reeds 20 jaar oud.

Sy word nie net onthou vir die verskil gemaak en geleenthede geskep vir duisende leerders nie, maar ook die manier waarop sy personeel bemagtig het en saamgesnoer het in effektiewe spanne om projekte te vestig en te groei.

Haar innoverende denke, praktiese aanslag en onuitputlike dryfkrag was verantwoordelik vir ‘n unieke nalatenskap.

Sy was ook ‘n toegewyde student en behaal tussen 1978 en 1989 ses nagraadse kwalifikasies, waarvan ‘n D.Ed aan Unisa en ‘n MBA by NWU.

Tersia King was passievol, vurig en onverskrokke om ‘n saak op te neem namens die individu of ‘n gemeenskap. Menige opponent sal getuig van haar deursettingsvermoë.

Sy laat haar eggenote, Philipp Wagner, vier kinders en ses kleinkinders na.

‘n Gedenkdiens om haar lewe te vier word op 10 Desember om 2nm by die NG Kerk Kempton-Kruin in Fiskaalstraat gehou.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button