Kersvader daag vroeg op vir kinders
'As tak wil ons graag almal betrokke by hierdie kerspartytjie bedank vir hul moeite en omgee'
KERSVADER en sy helpers het op 2 Desember ’n draai by die karavaanpark in Bredell gemaak om Kersgeskenke aan die kinders uit te deel.
Die kerspartytjie is deur Solidariteit Helpende Hand Kemptonpark-tak, in samewerking met Manna Employment Services, MSC Truck Stop, Golden Mile Maintenance en Santa’s Elves gehou.
Santa’s Elves het kinderharte verbly deur skoendoos-geskenke, springmielies en spookasem te skenk.
Manna Employment Services het bygestaan met ’n oggendprogram wat ook ’n interaktiewe kersspel deur Moira Hartzenberg ingesluit het. Tydens die Kersspel het kinders meer oor die geboorte van Jesus geleer en self rolle vertolk.
Kersvader het in ’n vragmotor opgedaag en is deur 60 opgewonde en luide kinders en grootmense verwelkom. Gedurende die partytjie kon die kinders hul eie kolwyntjies versier voor worsbroodjies die hongerpyne hokgeslaan het.
Kersvader het aan elke kind teenwoordig ’n Kersgeskenk gegee wat vir baie glimlagte gesorg het.
“As tak wil ons graag almal betrokke by hierdie kerspartytjie bedank vir hul moeite en omgee,” het takvoorsitter, Ella Pieterse, gesê.
“Dis wonderlik om te sien hoe die gemeenskap jaarliks betrokke is by die tak en veral ywerig skoenbokse dwarsdeur die jaar pak om seker te maak elke kind kan ’n Kersgeskenk in Desember ontvang,” het Pieterse gesê.
Vir meer inligting oor Solidariteit Helpende Hand, skakel Pieterse by 082-406-3655.
