“In die snelveranderende tegnologiese tyd waarin ons leef en veral waarin ons kinders grootword, kan skole nie anders nie as om in pas te bly met dié vooruitgang.”
Só sê Vivian Botha, skoolhoof van Laerskool Van Riebeeckpark, nadat dié skool vanjaar interaktiewe slimborde en projektors in al hul klasse in gebruik geneem het.
Die skool spog reeds geruime tyd met wi-fi-toegang vir al sy opvoeders.
Volgens Botha het kinders se manier van leer en hul leerbehoeftes oor die afgelope dekade drasties verander. “Kinders word deesdae met ’n magdom inligting van uiteenlopende bronne gebombardeer en is gevolglik baie meer visueel ingestel. Vir hulle is die spreekwoordelike ‘sien is glo’ meer waar as ooit.
“Waar opvoeders in ’n tradisionele leeromgewing die meeste praatwerk voor ’n bord gedoen het, is breër leerderdeelname en oudiovisuele inligting uit uiteenlopende bronne nou aan die orde van die dag.
“Persoonlike rekenaars, slimfone en die internet is niks vreemd vir selfs baie jong kinders nie en daarom moet die klasaanbieding in pas bly met die leerders se hedendaagse leef- en ervaringswêreld,” sê hy.
“Google is lankal nie meer ’n vreemde gonswoord beperk tot volwassenes nie, maar ’n skatkis waaruit voorgeskrewe leermateriaal reeds op laerskoolvlak met baie groot vrug aangevul kan word.”
Volgens Botha, ontsluit die slimborde ’n splinternuwe leerwêreld vir leerders. “Van meet af aan het die deelnamevlakke in ons klasse merkbaar toegeneem en word leerders onwetend en informeel gestimuleer om selfs meer te leer as wat binne die beperking van boeke se blaaie opgesluit lê.
“Leerders is vandag baie meer krities en ondersoekend en dit is juis dié kritiese en analitiese denke wat ons met behulp van tegnologie verder wil ontgin en stimuleer – reeds vanaf ’n vroeë ouderdom.”
Volgens Botha bied dit die bykomende voordeel dat dié leerders wat nie buite die skoolopset toegang tot ryk interaktiewe bronne het nie, nie uitmis op akademiese groei- en ontwikkelingsgeleenthede nie.
“Akademie is ons kernbesigheid en daarom het ’n belegging in tegnologie soveel sin ten einde elke leerder ten volle vir sy of haar toekomspad toe te rus – in ’n taal wat hulle verstaan,” sê Botha.
“Navorsing het keer op keer bewys dat kreatiwiteit, kommunikasie, samewerking en selfvertroue baie meer doeltreffend otwikkel word met behulp van tegnologie,” meen Valentyn van der Merwe, onderwysspesialis: wiskunde, van Solidariteit Helpende Hand.
“Laerskool Van Riebeeckpark gee die toon aan wat tegnologie in die klaskamer betref en die leerders sal gewis die vrugte pluk van die voorreg om blootstelling hieraan te geniet,” sê Van der Merwe.
