Impies maak stop-boelie-video
Laerskool Impala is baie uitgesproke teen boelies en het onlangs 'n groot anti-boelieveldtog geloods
SKOLE regoor die land sukkel met boelies.
Kinders word geteister, seergemaak, gespot of uitgelag op ‘n daaglikse basis. Dit het baie negatiewe gevolge vir die kind se holistiese ontwikkeling.
Laerskool Impala is baie uitgesproke teen boelies en het onlangs ‘n groot anti-boelieveldtog geloods om te keer dat leerders fisies of emosioneel afgebreek en afgekraak word.
Die veldtog is afgeskop met ‘n “stop boelies”-video wat vir Laerskool Impala se leerders gewys is. Hierdie video, wat die skool self vervaardig het, spreek verskillende boeliegedrag aan en gee ook wenke hoe om die spesifieke situasies te hanteer.
https://www.facebook.com/laerskoolimpies/videos/1243688955679912/
Die video spreek fisieke afknouery, verbale afknouery, kuberteistering en sosiale afknouery aan in die vorm van toneelspel deur die skool se prefekte.
Hierdie video sal deurgaans in die skool gebruik word om leerders bewus te maak van boelies en om hulle te help om boelies suksesvol te hanteer.
Die skool beskik ook oor ‘n pastorale berader en welsynwerker van Kids Clinic. Dié persone pas hul kundigheid toe om Impies met boelie-probleme te help. Die diens word gratis vir die Impies aangebied.
Meer as 8 000 besoekers het reeds op die eerste dag van die vrystelling van die video daarna gekyk.
