LAERSKOOL Impala se Hemelvaartvieringe was vanjaar iets besonders toe sowat 100 vlinders op 24 Mei deur personeel in die lug vrygelaat is.
Die vrylating het Jesus se opvaring na die hemel gesimboliseer. Die vlinders is spesiaal vanaf Port Elizabeth hierheen gebring.
Op Hemelvaartdag self het die skool sy eerste hemelvaartdiens aangebied wat deur meer as ‘n 1 000 mense bygewoon is. Die skool was gesluit vir hierdie dag.
Dr Schalk Basson het die diens gelei met ‘n boodskap van hoop. Hierdie spesiale geleentheid gaan ‘n trotse Impie-tradisie word wat jaarliks sal plaasvind.
Die skool se vieringe die vorige dag het begin met onderwysers en leerders wat elk hul vlaggies en armbandjies ontvang het. Die teksvers op beide was Lukas 24:51: “…Jesus het hul geseën en Hy is in die Hemel opgeneem”.

Die hele skool het op die veld bymekaar gekom en saam die Here se naam verheerlik deur sang en vlaggies wat in oorwinning gewaai het. Die boodskap uit die Woord was aan die leerders oorgedra en daar was vir hulle geleentheid gebied om vir mekaar te bid.
‘n Hemelvaartboodskap is na leerders se selfone gestuur waarna hulle hierdie boodskap vir soveel as moontlik kontakte kon stuur. Die onderwysers het ook elk ‘n vlinder ontvang wat hulle as simboliese teken in die lug kon vrylaat.
Die geleentheid was besonders en die Impies glo dat hierdie boodskappe mense van regoor Suid-Afrika sal bereik.

