Local newsNews

Jou stalletjie sal help om kersete moontlik te maak

Die geld wat die kerk met die verkoop van staanplekke maak sal vir ’n Kersdagete gebruik word.

’n Kersmark, waar jy vir jouself ’n geldjie kan maak en ook tot die Kersvreugde van minderbevoorregtes kan bydrae, word op 2 Desember deur die Elroi-gemeente Kemptonpark aangebied.

Die kerk is in 2009 deur pastore Dewald en Annetjie Allers op die been gebring en het hom sedertdien as ’n omgee- en familiekerk in die gemeenskap gevestig.

“Ons het ’n sagte plek in ons hart vir al ons eie mense wat swaarkry en alleen by die huis gedurende die feesdae is. Daarom het ons besluit om die Kersmark te hou om fondse vir ’n skaapbraai op Kersdag in te samel vir diegene wat niks het nie,” het Annetjie gesê.

Die mark vind vanaf 8vm tot 4nm by Aberfeldystraat 5, Aston Manor plaas.

Inwoners kan ’n stalletjie teen R50 bespreek. Alle winste wat hulle maak, is vir hul eie sak.

Die geld wat die kerk maak met die verkoop van staanplekke sal gebruik word vir die omheining van die kerkgrond en ’n Kersdagete vir minderbevoorregte mense by die kerk.

“Ons nooi jou uit om te deel te wees van hierdie feesdag waar ons ’n spitbraai met slaaie, groente en nagereg sal bedien. Ons sal graag vir die kinders ’n springkasteel wil huur,” het Annetjie bygevoeg.

Die egpaar het besighede se hulp nodig met skenkings, mense se hulp nodig om kos voor te berei en andere om hulle met die mark te ondersteun.

“Ons wil die gemeenskap vra om saam te staan en deel van ’n wenspan te word.”

Vir enige navrae, skakel Annetjie by 081 315 0917.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button