Skooltassie-projek gee ’n helpende hand by plaaslike skole
Helpende Hand deel vanjaar ongeveer 4 600 tassies uit.
Behoeftige leerlinge van Laerskole Impala, Van Riebeeck Park, Birchleigh, Edleen en Bredell is nou die trotse eienaars van nuwe skooltassies met skryfbehoeftes én ’n leesboek in.
Dit te danke aan die Die Solidariteit Helpende Hand-organisasie. Hierdie organisasie het gevind dat, uit 60 skole, ’n yslike 55 persent van behoeftige kinders geensins leesboeke besit nie. Om die rede hoop hulle om met hul skooltassie-projek Suid-Afrikaanse kinders gou aan die lees te sit.
Die skooltassie-projek poog om behoeftige Graad Een-leerlinge regoor die land in staat te stel om hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats te begin.
Teen ‘n waarde van ongeveer R380 per tas kan dié graad eentjies, onder meer, uitsien na uitdraaikryte, inkleurpotlode, ’n legkaart, ’n skêr en vanjaar ook ’n Bybelleesboek in hul tasse.
Volgens projekorganiseerder Margolé Riekert het die tekort aan skryfbehoeftes ’n impak op die opvoeding van kinders. “Hierdie tekort dra by tot swak leesvermoëns en dit moet daadwerklik aangespreek word indien daar ’n verbetering in die leesvermoë van kinders gaan kom.”
“Dit sluit aan by die Vordering in Internasionale Leesgeletterdheidstudie-verslag (PIRLS) wat gewys het dat 78 persent van Suid-Afrikaners in Graad Vier nie met begrip kan lees nie.”
Helpende Hand deel vanjaar ongeveer 4 600 tassies uit. Meer as 170 skole regoor die land het vir die tassies aansoek gedoen.
Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur die woord “Tassie” na 42266 te SMS en so betrokke te raak by die projek.
’n SMS kos R30, of besoek www.tassie.co.za
