Oud of nuut, skenk daardie boeke aan jou biblioteek
Die Vriende van die Kempton Park Biblioteke beywer hulle om biblioteke te help.

Die Vriende van die Kempton Park Biblioteke is deurentyd besig om biblioteke te ondersteun deur te help met fondsinsameling en ander maniere om nuwe boeke vir hulle aan te koop.
Dit word al hoe belangriker aangesien die metro se begroting vir die aankoop van nuwe boeke besnoei word. Die Vriende se fondse stel biblioteke in staat om hierdie gaping aan te vul.
Die Vriende se doel is dus tweeledig van aard. Eerstens om die biblioteke in die streek aan die publiek bekend te stel. Tweedens om fondse in te samel om nuwe boeke vir biblioteke aan te koop.
Om hierdie doelstelling te bereik, kan die gemeenskap betrokke raak deur tweedehandse boeke aan die biblioteke te skenk. Hierdie boeke word vir biblioteke waar dit nodig is, opgeneem of dit word vir ’n nominale prys verkoop. Hierdie projek is die grootste enkele bron van hul deurlopende inkomste.
Indien jy deur tweedehandse boekskenkings betrokke wil raak, nader enige biblioteek in jou omgewing vir inligting. Hulle sal jou in kontak bring met ’n persoon wat die boeke by jou sal kom haal of jy kan dit self by die biblioteek inhandig.
Vir meer besonderhede skakel Magdel van Tonder by 083 3103 693.
