Gemeente samel 583 Bybels in
‘n Groot aantal Bybels is ook aan Oos-Rand Akademie vir verspreiding gegee.
Die NG Gemeente Kempton Park-Noord het verlede jaar Oktober hul 500-jarige hervormingsfees rondom die verspreiding van Bybels gevier.
Daar is gepoog om minstens 500 Bybels vir sendelinge, skole en plaaslike uitreike beskikbaar te stel.
Die poging het groot belangstelling gaande gemaak en met die samewerking van lidmate en belangstelling van buite kon die gemeente 583 Bybels aankoop.
Die gemeente is dankbaar vir die besonderse seën wat hulle ontvang het en glo ook dat die verspreiding daarvan suksesvol sal wees en sal bydra tot die uitbreiding van Sy liggaam op aarde.
Van die Bybels is reeds versprei en ander moet nog versprei word. Bybels is uitgedeel aan Eddie Hartzenberg, ‘n sendeling in die suidelike dele van Afrika, noord van Suid-Afrika.
Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Zuurfontein het die fees saam met Kempton-Noord op ‘n hoë noot afgesluit met die hervormingsfees op 29 Oktober verlede jaar. Hulle sal ook help met die Bybelverspreiding.
‘n Groot aantal Bybels is ook aan Oos-Rand Akademie vir verspreiding gegee. Die balans sal gedurende ‘n uitreikprojek van die gemeente op Jeugdag, 16 Junie, in Kempton Park se strate versprei word.
Die amptelike oorhandiging van die Bybels het op 25 Maart tydens die oggend-erediens van die gemeente plaasgevind. Teenwoordig by die geleeentheid was Hartzenberg, ds Hannes Janse van Rensburg van Zuurfontein-gemeente en Schalk van der Sandt van Oos-Rand Akademie.
Die erediens is deur ds Albert Cruywagen gelei, terwyl die oorhandiging deur ds Bert van Zyl en Chris Swanepoel namens die gemeente gedoen is.
