Elfjarige se dromme ryg medaljes in by uitvoerende kunste
Layla is gekies om Suid-Afrika by twee internasionale kompetisies te verteenwoordig.
’n Elfjarige laerskoolmeisie van die stad het die afgelope vakansie aan twee groot uitvoerende kunste-kompetisies deelgeneem en die beoordelaars beïndruk.
Layla Venter, ’n dromspeler en sanger, het gekwalifiseer om Gauteng te verteenwoordig by die nasionale rondte van die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste.
Hier het dié leerder van Laerskool Impala teen Suid-Afrika se beste meegeding en drie goue- en een silwermedaljes verower.
Sy het ook die trofee as algehele wenner in die instrumentale afdeling gewen.
Sy is vir die ‘showcase’ gekies waarna sy as Grand Champion bekroon is.
Gegrond op al haar prestasies is sy gekies om Suid-Afrika in Los Angeles by die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste te verteenwoordig.
By Talent Africa het sy provinsiale kleure vir uitvoerende kunste ontvang en is na afloop van die Talent Africa nasionale kompetisie gekies om Suid-Afrika in New York by Talent America te verteenwoordig.
Layla het by hierdie kompetisie ses gouemedaljes gewen.
