Local newsNews

KYK: Tannie Anna van Allen Park vier 90 jaar

Sy woon al vir 44 jaar in Kempton Park.

Allen Park inwoner Anna Rogers het op 10 April 90 jaar oud geword. Dié mypaal het sy verlede Dinsdag, omring deur goeie vriende én geskenke, by Café@The Range in Adreastraat gevier.

’n Deftige Rogers, uitgevat in ’n pienk romp-en-baadjie-pak, het aan Express gesê dat daar geen geheim is om dié ouderdom te bereik nie.

“Dit is net God se genade, regtig waar.”

Om haar, het lewenslange vriende gesels en foto’s geneem. Dié groep moet nie onderskat word oor hul ouderdomme nie – meeste foto’s is met tablette en slimfone geneem.

“Dit is vreeslik lekker om almal hier te hê, hulle is so dierbaar vir my,” het Rogers, wat tussen die groep gesit het, gesê.

Sy is 90 jaar terug in Bethlehem in die Vrystaat gebore. Sy het eers in Rhodesfield gewoon en daarna na Kempton Park verhuis. Hiér het sy al sedert 1974 ’n tuiste gevind. Eers in Blue Gill, Glen Marais en daarna in Allen Park Aftree-oord vanaf 2010.

Sy was eers met Johan van Biljon getroud. Uit die huwelik is twee seuns gebore. Na haar eerste man se dood in 1983 is sy met Sarel Rogers getroud.

Anna Rogers vier haar 90ste verjaarsdag in styl. Sy was omring met vriende sowel as geskenke.

Rogers is duidelik welbekend en geliefd in haar gemeenskap. Sy was immers die voorsitter van Allen Park Rolbalklub vir 10 jaar. In 2011 is sy as erepresident vereer. In haar vrye tyd hou sy haar besig met bingo en Rummikub.

“Sy wen my nog gereeld in laasgenoemde,” het Marie van Niekerk in haar toespraak by die feesviering gesê. Dié twee is al sedert 2010, toe Rogers na Allen Park verhuis het, beste vriende.

“Sy is ’n besonderse vrou,” het Van Niekerk bygevoeg.

Daar was nie verjaarsdagkoek by die geleentheid nie, maar Rogers het belowe dat dít wag vir later die dag, wanneer haar seuns kom kuier.

“Ek glo darem nie daar sal 90 kersies op wees nie,” het sy geterg. Haar raad aan die jongmense van Kempton Park is “om te aanhou glo. Dis immers al wat jy kan doen”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button