Laerskool Impala se hoof van die afgelope 11 jaar groet die Impies op 25 April wanneer hy die onderwys vaarwel toeroep.
Theo Gouws was vir bykans 40 jaar in dié beroep, waarvan hy amper 30 jaar by die Impies spandeer het.
Sy afskeidsboodskap aan die Impies is:
“In Prediker 3:1 staan geskryf: ‘Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd’.
“Met ’n traan in my oog lees ek die pragtige vers oor en oor en die werklikheid kom lê besoek by my af. Ek kom tot die besef dat alles in die lewe ’n begintyd en eindtyd het.
Lees ook:
• Principal retires after two decades
• Norkem Primary headmaster bows out
• Carnival farewell for Aston Manor principal of 35 years
“Na bykans 40 jaar in die onderwys, waarvan net minder as 30 jaar by ons spogskool, het dit vir my tyd geword om die onderwysberoep te groet. Dit voel soos eergister toe ek my loopbaan by Laerskool Pietersburg-Noord begin het. ’n Jong, onervare onderwysertjie met net ’n paar penne en toebroodjies in my splinternuwe aktetas.
“Die ‘ou’ manne het daardie toebroodjies vinnig verorber en my daarna uitgenooi om die snoepie te gaan besoek as ek die dag wou oorleef.
“Na ’n wonderlike 10 jaar het ek besluit om in die Noorde op te pak en terug te keer na die stad waar ek grootgeword het. In 1991 word ek as departementshoof by Laerskool Impala aangestel. En dit is hier waar ek die voorreg het om die bevorderingsleer te klim tot P4 Hoof.
“Laerskool Impala was nie vir een dag gelukkig om my as onderwyser en hoof te mag hê nie. Inteendeel, ek was die bevoorregte een om deel van Impieland-Spogland te kon wees. Die skool het my gevorm tot die individu wat ek vandag is.
“Die ongelooflike bydraes en invloede wat die skool deur die ouers, leerlinge en gemeenskap op my gehad het is onbeskryflik en gewaardeerd. Ek sou op geen ander plek my beroep wou uitleef, voltooi en ook uittree as by Laerskool Impala nie.
“Hier kon ek myself uitleef as Graad Ses Engelse en Graad Sewe wiskunde onnie. Ek het nog altyd ’n passie vir wiskunde gehad en dit was vir my belangrik dat die Impies ’n liefde vir wiskunde moes kweek. Dit was vir my belangrik dat ’n leerling nooit in die wiskundeklas sal sê dat hy nie kan nie, maar eerder dat hy sal probeer.
“Die traan wat vlak in my oog sit met dié totsiens-boodskap is nie van hartseer nie. Inteendeel, dis van blydskap. Blydskap dat ek elke dag die geskenk van lewe van God mag ontvang. Blydskap dat God my gekies het om met sy Koninkrykskinders vir so lank te kon werk.
“Om deel van hul lewens te kon wees en hul te help vorm na Sy woord en Sy daad. Hy het my geseën met ’n beroep waarin ek myself kon uitleef, een wat ek elke dag met ’n lied in my hart beoefen het.
“Ek was in die bevoorregte posisie om saam met Laerskool Impala te groei tot die spogskool wat ons tans is. Ver lê die dae toe ons 489 leerlinge en 14 personeel was. Ek groet die spogskool met 1 549 leerlinge en 103 personeel en werkers. Wat ’n voorreg om so as skool en as persoon te kon groei.
“Ek het die besluit om af te tree nie ligtelik opgeneem nie, dit kan ek u verseker. In Prediker 3 staan daar dat daar ’n vaste tyd vir als is en dat alles sy vaste tyd het.
“Openbaring 3:18 stel dit so mooi met die volgende simboliese woorde: ‘Daarom raai ek julle aan om by My goud te koop, wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word … en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien’.
“In ons gejaagde lewens is ons geneig om die volheid van die lewe mis te kyk. Dit het nou tyd vir my geword om te gaan deel in die rykdom wat God ook in my lewe geplaas het. Die rykdom in my lewe van familie, kinders en kleinkinders.
“Vergewe my as ek die belangrikste persone eerste groet, aangesien ek hulle die meeste gaan mis – ons spog Impie-leerlinge. Julle het my lewe elke dag verryk. Hoe dan anders met 1 549 kindertjies, elk met sy eie persoonlikheid, talente, gawes en sommiges met ondeunde gesiggies. Ek het julle elke dag geniet.
“Jul vriendelikheid, opregtheid en kinderlike eerlikheid is so spesiaal. Doen julle beste by Impala en leef naby die eerste en belangrikste pilaar, Christenskap. Wees gelukkig, glimlag en groet vriendelik. Julle is ware ambassadeurs van ons spogskool.
“Om totsiens vir die Impie-personeel te sê is ewe moeilik. U is meer as net my personeel. U is almal my vriende. U ondersteuning en vertroue in my om aan die hoof te kon staan is ongekend en ek het dit opreg waardeer. Bou voort op die suksesse van die verlede en moet nooit my woorde vergeet nie: gelukkige kind, gelukkige ouer.
“Aan die beheerliggaam en ouers, dankie vir u ondersteuning en insette. Die beheerliggaam het nog altyd ’n ongelooflike ondersteunende rol gespeel. Ons Impies het altyd eerste gekom.
“Dit is my wens dat u as ouers sal voortgaan om ons skool te ondersteun deur u positiwiteit en lojaliteit. Ek het al op verskeie geleenthede aan u voorgehou hoe bevoorreg u is om u kind te laat onderrig in ’n Afrikaansmedium skool. Pas u skool op. Skep ’n veilige omgewing waar u kind in sy taal en kultuur onderrig kan word.
“Op 25 April haal ek my das vir die laaste keer by Impala af, sit ek my pen vir die laaste keer op my tafel neer en groet ek u almal. Ek laat u in die bekwame hande van my spogpersoneel en ’n uitnemende beheerliggaam.
“Daar is geen bekommernis in my hart dat die beheerliggaam ’n bekwame vlieënier sal aanstel om hierdie Impie-vliegtuig na hoër hoogtes te neem nie.
“Ek groet almal deur te sê mooi loop. Mooi loop is so ’n mooi toewensing. Dit sê: kyk mooi waar julle gaan, moenie seerkry nie. Kyk dat ander nie op julle trap nie. Loop trots en reggop met selfversekering, trots en vasberadenheid.
“Dit het ook ’n sagte boodskap wat sê: ek is bekommerd oor jou. As julle mooi loop dan sien ek julle weer, want dit klink nie so finaal soos totsiens nie. Dit sê ook julle het ’n vriend in my en ek dra julle in my hart en gebede op aan ons Vader. Mooi loop!
“Ek gaan nou ’n nuwe toekoms in, met geen vrees, net geloof. Die Here maak hierdie belofte aan ons in Jeremia 29:11: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting’.
“Paul Cohelo het gesê: ‘As jy braaf genoeg is om totsiens te sê, dan sal die lewe jou groet met ’n nuwe hallo’.
“Totsiens en hallo.”

