Local newsNews

KYK: Oud-personeel van Kempton Park Hospitaal deel herinneringe

Aanvanklik is daar net gereed gemaak vir 20 gaste.

Indien daar ’n mediese noodgeval Saterdagmiddag by Adreastraat 20 in Glen Marais sou wees, sou dié persoon in bekwame hande gewees het.

Hiér, by Cafe@The Range, het sowat 100 voormalige verpleegsters en hospitaalpersoneel van die ou Kempton Park Hospitaal bymekaargekom ter herdenking van die 20 jaar vandat dié hospitaal sy deure permanent gesluit het.

Die gaste, sommige van wie mekaar jare gelede gesien het, se jolige gekuier kon van die straat af gehoor word. Binne was die tafels pragtig gedek – die perfekte bederf vir personeel wat hul lewens gewy het om na ander om te sien. Later is daar heerlike hoenderpastei bedien.

Dié is tussendeur geselsies oor hospitaalherinneringe aan gesmul.

Hierdie reünie was te danke aan oud-verpleegsters Pat Hochleutner (72), Agnes Smit (69) en voormalige hospitaalontvangsdame Annette Griezel (63). Die drie vriendinne eet weekliks saam ontbyt.

“Eendag het ons gesê, hoekom hou ons nie iets vir almal nie?” het Hochleutner aan Express gesê. Aangesien sy met verlof was, het die yslike taak in haar hande beland.

“Ons het nie gedink dat daar so baie belangstelling gaan wees nie. Toe ons eerste bespreek het, was dit vir 20 mense, toe 35 en later 50. Op die ou end maak ons dit toe maar 100.”

Hier is nog baie foto’s

Volgens Hochleutner was daar verpleegsters, kantoorpersoneel, laboratoriumpersoneel en mense van die X-straalafdeling teenwoordig. “Ons het selfs boodskappe van oud-pasiënte gekry wat groete gestuur het.”

Een belangrike gas teenwoordig was voormalige verpleegster Ria Eksteen (77).

“Toe ek in die kraamsaal was, het ek en suster Burger die hospitaal se eerste baba gevang. Dit was ‘n mevrou Nel se baba,” onthou sy.

Voormalige verpleegsters Pat Hochleutner (72), Agnes Smit (69) en voormalige hospitaalontvangsdame Annette Griezel (63) het dit tydens een van hul weeklikse ontbytsessies goed gedink om ’n reünie te reël.

“Dit was ’n wonderlike gevoel. Ek dink dis fantasties om almal weer bymekaar te sien.”

Eksteen het vir 17 jaar by die hospitaal gewerk.

Annie Jacobs (79) het 21 jaar terug in die hospitaal se kafeteria gewerk waar sy verkope gedoen het.

“Dit was altyd so lekker om daar te werk en met al die verskillende mense te gesels. Dis goed om na al die jare weer op te vang.”

Hersteria Koegelenberg (80) het 31 jaar gelede in die verpleegsterstehuis gewerk.

“Ek was daar vir 11 wonderlike jare. Dit is absoluut ongelooflik om vandag hier saam te kuier.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button