Local newsNews

KYK: Jong akteur is eersdaags weer op die grootskerm

Hy werk saam met groot name soos Ivan Botha en Donnalee Roberts.

Ruanco Ueckermann was ’n skaam seuntjie. Juis hiérom is hy reeds op die ouderdom van vier vir dramaklasse gestuur.

Nie lank nie en dit was duidelik: Ruanco was gemaak vir die verhoog én, klaarblyklik, die grootskerm.

Vyf jaar later en dié Graad Vier Impala-leerder is binnekort in Ivan Botha, Sean Daniels en Donnalee Roberts se film Stroomop te sien. Dit sal wel nie die eerste filmrol wees wat Ruanco losslaan nie. Laasjaar was hy in Luhann Jansen se Kampterrein te sien.

“Ek het in Graad Een agtergekom dat ek van drama hou toe ek aan die SA kampioenskappe vir uitvoerende kunste deelgeneem het,” vertel die blou-oog seuntjie aan Express.

Vanjaar het hy 16 gouemedaljes by dié kompetisie opgeraap. Hy het ook deurgedring na die ATKV redenaars se semi-finaal in Junie. Hiér sal hy praat oor “Kinders wat hul vingers gaan verbrand as hulle nie dissipline het nie”.

Dié onderwerp pas Ruanco soos ’n handskoen. Hy balanseer skool, rugby, krieket en drama.

Al het Ruanco (9) al saam met groot name soos Ivan Botha en Donnalee Roberts gewerk, is hy ’n beskeie seuntjie. In sy vrye tyd speel hy graag saam met sy maatjies in die straat. Foto: Verskaf.

“Dis eintlik baie maklik,” sê hy volwasse. “As ek in ’n movie speel en ons skiet dit nie aanmekaar nie, kan ek skool toe gaan. Daarna speel ek weer rugby en krieket.”

En hoe op aarde leer hy al sy woorde?

“Mamma raas soms ’n bietjie,” laat hy met ’n stoute glimlag hoor.

Volgens ma Alet is dit nie eers altyd nodig nie. “Ons druk hom glad nie, hy wil drama doen.”

Hierdie toegewyde ma bied al die ondersteuning aan Ruanco om sy potensiaal uit te leef.

“Ons ry maar agter oudisies aan en hoop hy kry dit, wat hy baie keer nie doen nie. Ons doen dit, want dit is vir hom lekker.”

Drama ís vir die blondekopakteurtjie pret. “Wanneer ek op die verhoog is, kan ek net act en myself geniet.”

Ruanco het al saam met groot name soos Louw Venter, Jurgen Helderberg en Lindie Stander in die filmindustrie gewerk. Tóg kry hy nie grootkop nie.

“Ek leer by my ma en pa om nie ’n ego te hê nie.”

Om snaaks te wees, leer hy weer by ouboet Marco (20). “Hy’s baie snaaks.”

Laatlammetjie Ruanco het nog ’n broer, Tian (22).

Ruanco (9) het 16 gouemedaljes by vanjaar se SA-kampioenskappe vir die uitvoerende kunste opgeraap. Foto: Verskaf.

Miskien leer hy ook by hulle om so volwasse te wees. Sy raad aan aspirant jong akteurs is “dat hulle net moet probeer en probeer totdat hulle dit regkry. Hulle moet ook nou al begin geld insamel sodat hulle Amerika toe kan gaan. Daar sal hulle famous mense ontmoet wat hulle in movies sal sit.”

Ruanco droom self om eendag ’n bekende akteur te word.

Na Express gegroet het, hardloop hy agterna.

“Onthou asseblief om iets te sê van Oom Hennie.” Ons het ’n gevoel Oom Hennie is nie dié jong talent se enigste aanhanger nie.

Stroomop begin op 9 Augustus in teaters draai.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button