Bekende in boeremusiekkringe van Glen Marais oorlede
Oom Wollies het ook verskeie jeug-boereorkeste opgelei en vir kompetisies reggekry.
Een van die land se bekendste musikante, Christo Wolmarans van Glen Marais, is op 5 Mei op die ouderdom van 77 jaar oorlede.
Wolmarans, wat meer bekend was as Oom Wollies by die Boeremusiekgilde van SA se Witwatersrandtak, het in Driedoringstraat gewoon. Sy vrou bly steeds daar.
Sy gedenkdiens was op 10 Mei.
“Oom Wollies het ongelooflik baie werk onder die jeug gedoen om boeremusiek te behou en te bevorder. Hy het ook op verskeie TV-programme verskyn en was onlangs nog op Ontbytsake as Oom Paul Kruger, waar hy Heidelberg Sakekamer verteenwoordig het,” het Adriaan Steyn, voorsitter van die Witwatersrandtak, gesê.
Oom Wollies het ook verskeie jeugorkeste opgelei en vir kompetisies reggekry.
“Die klanke van boeremusiekinstrumente gaan baie stil wees sonder die hande van Christo Wolmarans. Tot wedersiens, Oom Wollies en Oom Paul,” sê Steyn.
