NewsSchools

KYK: Impies vier Hemelvaart

Oud en jonk het die koue trotseer om die voormalige vakansiedag te geniet.

’n Koue Donderdagoggend kon toegewyde Impala-leerders, hul ouers en selfs ’n ouma en oupa of twee nie weghou van dié skool se hemelvaartdiens nie.

Hierdie dag word nie meer in Suid-Afrika as ’n nasionale vakansiedag gesien nie. Die Impies het wel ’n reëling met die Departement van Onderwys dat hul leerders nie op die dag skool toe hoef te gaan nie.

“Hierdie dag word deesdae soos ’n gewone werksdag hanteer,” het Louis Janse van Rensburg gaste toegespreek onder die helderblou lug, waar nie ’n wolk te sien was nie.

“Die Impies is wel bevoorreg om op die dag eer aan ons Skepper te bring.”

Daarna het oud en jonk opgestaan om, onder leiding van Juffrou Venter, Ons Koning Kom en Met My God te sing. Veral die jonges het dit geniet en uit volle bors gesing. Hier en daar is klein handjies, snoesig in handskoene weggesteek, in die lug gesteek en op die maat van die musiek geswaai.

Dr Schalk Basson van die NG Kerk Kempton Kruin het na die gewyde sang die gesinne toegespreek. Baie mamma’s en pappa’s het met hul kleintjies onder komberse gesit en luister, terwyl Basson uit Openbaring 1:7 gelees het: “Kyk, Hy kom op die wolke. Ons almal sal die Here weer sien.”

Kyk hier na nog foto’s

Sommige kinders het hul ouers se skote vir die rugbyveld verruil, waar hulle jolig gespeel het.

“Vir baie kan hierdie belofte dat die Here weer kom, vrees bring,” het Basson voortgegaan. “Maar, vrese verwoes lewens. Die Here wil met jou praat oor jou vrese en sê jy moet nie bang wees nie.”

“Een Johannes vers 14 sê, ‘waar daar liefde is, is daar nie vrees nie,’ het hy afgesluit.

Die Woensdag voor hierdie diens het die kinders self Hemelvaartdag by die skool gevier met wapperende vlaggies en borrels. Gaan loer na die oulike foto’s op ons webtuiste.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button