“Hierdie jaar gaan ons vir goud.”
Só sê Gert Pottas, koordirigent van Laerskool van Riebeeckpark, nadat die skool se kore na die eindronde van die Sing in Harmonie-koorkompetisie deurgedring het.
Sing in Harmonie is Anthonie Bougas van Supersterre-faam se breinkind.
Dit is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika gemeet aan televisieblootstelling, pryspakette en aantal inskrywings.
https://www.facebook.com/673186959444174/videos/1717099005052959/
Bougas is die aanbieder, skrywer en vervaardiger van die kompetisie waar honderde kore van laerskole en hoërskole oor die land heen teen mekaar meeding.
Die eindronde van die sesde seisoen van Sing in Harmonie, waarvan die eerste episode op 3 Junie op kykNET NOU (DStv-kanaal 146) uitgesaai is, sal in September uitgesaai word.
Pottas sê dit is die derde jaar wat Laerskool van Riebeeckpark se junior en senior koor aan Sing in Harmonie deelneem.
“Ons mikpunt is om elke jaar te verbeter. Aanhouer wen en dié jaar gaan ons vir goud.”
Volgens hom is die koorlede in ekstase dat hulle reeds na die eindronde deurgedring het.
“Die kompetisie bied aan die kinders die geleentheid om met hulle talente te spog. Dis vir ons ’n groot eer en prestasie.”

