Hoërskool Jeugland is as die algehele wenner van Lefra Produksies se gewilde revuekompetisie REVUE! aangewys.
Jeugland was vir die tweede agtereenvolgende jaar ook die wenner van die afdeling vir hoërskole.
Laerskool Baanbreker van Boksburg het die laerskole-afdeling gewen. Laerskool Hennopspark van Centurion was tweede en Rustenburg se Laerskool Vastrap derde in dié afdeling.
Hoërskool Menlopark van Pretoria was tweede in die hoërskole-afdeling, met Hoërskool Die Anker van Brakpan derde. Die finaal van die jaarlikse revuekompetisie is op 12 September by Carnival City se Big Top Arena aangebied.
Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies en ook regisseur van REVUE!, is baie opgewonde oor die standaard van die revues.

“Vanjaar se standaard was werklik baie hoog. Vir my is die revues in der waarheid mini-musiekblyspele. Ons het wonderlike beoordelaars gehad – Lizz Meiring, Duane Williams (7de Laan en West Side Story) en Helene Bester.
“Die finaliste se punte was baie na aan mekaar en die beoordelaars moes werklik kopkrap om die beste revues as wenners aan te wys,” sê Swart.
“Daar is tydens die finale baie streng en tegnies beoordeel. Ons revue-kompetisie het spesifieke reëls om aan die genre revue te voldoen. REVUE! is vir my ’n ekstravaganza van musiek, dans, kostuums, klank en kleur.
“Die beoordelaars het baie streng op hierdie formate van die revues gefokus. Natuurlik was dit vir die beoordelaars baie belangrik dat die beste revues moes wen.”
Die kompetisie is op ’n uitklopbasis aangebied.
Vanjaar se kompetisie sal veral onthou word vir die agtjarige Joshua Ziervogel van Laerskool Van Riebeeckpark se Junior-revue, Riebies Diner.

Hy het sosiale media aan die gons gehad nadat Swart een aand ’n videogreep van klein Joshua se optrede op Facebook geplaas het met die inskrywing: “Die enetjie het die show gesteel vanaand. Te blerrie cute!”
Binne ’n dag het meer as 50 000 mense die video gesien. Tans het meer as 341 000 mense na Joshua se optrede gekyk.
“Ek is al 40 jaar in die vermaakbedryf en talent soos Joshua spring dadelik na mens toe uit. Toe ek die mannetjie sien sing, dans en optree, het ek onmiddellik besef dat hier ’n nuwe ster in Suid-Afrika gebore word. Natuurlik is mens altyd baie verbaas as die publiek skielik so reageer en dan besef jy ook dat jou oordeelsvermoë jou ook nie in die steek gelaat het nie. ’n Mens moet hom op die verhoog beleef om werklik sy talent te kan waardeer.”

Elke wenskool het ’n R10 000 kontantprys ontvang. Die revue-organiseerders van die wen laer- en hoërskool het elkeen ’n kajuit vir twee na die Oppiwater Kunstefees 2019 op die luukse MSC Musica van Durban na Mosambiek gewen. Die fees vind vanaf 15 tot 19 April plaas.
As algehele wenner, wen Jeugland ook ’n gratis vertoning van een van Lefra se topproduksies, wat gebruik kan word as ’n fondsinsamelingsprojek. Wenskole ontvang ook ’n trofee wat deur die skool gehou kan word.
Skole wat vir 2019 se kompetisie wil inskryf, wat weer in Augustus en September by Carnival City aangebied gaan word, kan ’n e-pos aan admin@lefra.com stuur.
