KYK: ‘Bertie’ kuier by Kempton Park se bejaardes
Hierdie oud-sepiester het steeds 'n sagte plek vir Kempton Park.
Sommiges ken hom as die sagmoedige Bertie in die oud-sepie Egoli.Ander het hom miskien op die kleinkassie se Koöperasiestories gesien of op die grootskerm se Pretoria O Pretoria!
Vir die inwoners van Kempton Park is hy sommer net Hennie Smit, ‘n oud-Laerskool Impala-onderwyser wat ook dié skool se skoollied geskryf het.
Vandag woon Smit (75) in ’n aftreeoord in Bloemfontein, maar nie hy óf sy liefde vir vermaak is al oor die muur nie.
“Ek het ’n sterk gees, ek is ’n happy chappie,” vertel Smit jolig aan Express.
Hy hou sy skedule vol met konserte, vroue-oggende en besoeke aan aftreeoorde.
“Dit is ’n voorreg om dit op my ouderdom te doen en dit is ’n voorreg om die talent daarvoor te hê.”
Hierdie talente steek hy ook nie in die Vrystaat weg nie. Hy het ’n week in die Oos-Rand gekuier en is nou weer op pad na die Wes-Rand.
“Dit is wonderlik om weer terug in Kempton te wees, ek het baie heimwee. Daar is baie mense hier wat ek geken het toe hulle veertig jaar jonger was.”
Woensdagoggend het Smit ’n vertrek vol inwoners van Glenrus Park vermaak. Hy het onder meer gesing, gegrap en gedigte voorgelees.
Sy raad aan hulle was om te lag en hul gees jonk te hou.
“Moenie so baie kla nie en praat oor die goedheid van die Here.”
