KYK: Twee seuns ‘moker’ mekaar by Hoërskool Kempton Park
Die skool het toegekyk en die kameras het gerol.
Die vuiste het gevlieg toe twee seuns Woensdagoggend in ’n “geveg” op Hoërskool Kempton Park se aantreeblad betrokke geraak het.
Ouers en onnies hoef hulle nie te bekommer nie, dié aksietoneel was vir ’n lokprent wat by die hoërskool geskiet is.
Die “vegters” was akteurs Damion Stols (14) en Wade Loots (22).
Volgens Tammy Broli, afrigter, skrywer en regisseur van die projek vir haar drama skool TATS@WOW, is die lokprent vir ’n internasionale kompetisie. Wat die naam van die kompetisie en die prent is, wou sy nie verklap nie.
“Na die kompetisie sal ons werk om die lokprent in ’n film te verander,” het sy wel gesê. “Dit sal ’n verhaal vir kinders wees, met temas wat relevant in ons skole is.” Wat hierdie temas is kon Broli nog nie deel nie.
Die Kempies se terrein sal nie die enigste verhoog vir die geheimsinnige projek wees nie. Volgens Broli beplan die span ook om nog ’n draai by Hoërskool Jeugland te maak. Ander skole het ook belangstelling getoon en hul betrokkenheid sal nog bevestig word.

Agter die kameras van die lokprent was kameramans Dirk Mostert en Rudi Ahlstrom van Dirk Mostert Kamera Produksies.
“Dit maak ons trots om by ’n kleinskaal-produksie ook betrokke te wees,” het Ahlstrom aan Express gesê. “Ons is trots om jong talent na vore te bring.”
Vir die wat ook eendag agter die kameras wil werk, was Ahstrom se raad om hard te werk, gereeld te leer oor nuwe tegnologie en ook om geskiedenis van rolprente te ken.
“Skiet films, veral as jy jonk is,” het Mostert bygevoeg. “Moenie skaam wees om dit vir iemand te wys nie. Al kry jy negatiewe reaksie, is dit ’n beginpunt om beter te word.”


