KYK: Die Impie (10) met ’n engel-stem bekoor talle
Sy sang sal enige musiekliefhebber betoor.
Enigeen opsoek na sangtalent hoef nie verder as Rietfonteinweg in Kempton Park te soek nie.
Daar woon Duncan Struthers en dié 10-jarige kan ’n storm los sing.
Sy engel-stem het beoordelaars by die onlangse Suid-Afrikaanse Talentkampioenskappe so beïndruk dat hy met drie goue- en een silwermedalje weggestap het. Nou kwalifiseer hy vir die Model en Talent Ekspo wat volgende jaar in Dallas, Texas, plaasvind.
“Ek het in die kleuterskool al begin sing,” vertel die blondekop seun.
Die rye balkies aan sy Laerskool Impala-baadjie verklap dat hy ook ’n talentvolle hokkiespeler is, akademies presteer en dat hy aan SA ringbal deelgeneem het.
“Ek het elke oggend gesing wanneer ek wakker word tot by die skool, dan moes ek ophou,” lag hy beskeie.
Hierdie hardwerkende Graad Vyf-leerder sing ook in sy skoolkoor en in die East Rand Children’s Voices koor.

Vir ontspanning swem hy graag, maar sang bly maar sy gunsteling aktiwiteit.
“Vir ander kinders wat ook graag wil sing, sal ek sê doen net jou beste, ‘what will be will be’. Moet nie omgee wat ander mense vir jou sê nie.”
Struthers het vir Express ’n weergawe van I See the Light uit die fliek Tangled gesing en dit was genoeg om vir ons hoendervleis te gee. Sangliefhebbers kan gerus ’n ogie op hierdie jong talent hou.
