NewsSchools

Kruinie-kore stap weg met die louere

“Dis wêreldklas, dis verbysterend en asembenewend,” sê gasbeoordelaar.

Met die room van Suid-Afrika se laerskoolkore as teenstanders, het Laerskool Kruinsig se junior en senior kore albei Sondagaand Regstreeks in Harmonie, wat deel van Sing in Harmonie is, gewen.

Die regstreekse uitsending is vanaf Irene in Pretoria gedoen en is op kykNET NOU! op DSTV uitgesaai.

“Die kompetisie het hierdie jaar geweldig gegroei. Kore wat na die regstreekse finaal deurgedring het is op ’n hoë standaard en harde werk spreek vanself. Ek dink Sing in Harmonie skep ’n nuwe platform vir kore regoor ons land,” het Anthonie Bougas, wie se breinkind die kompetisie is, gesê.

Op 21 Oktober laasjaar is geskiedenis gemaak toe 12 laerskoolkore vir die eerste keer in Suid-Afrika op regstreekse televisie aan die kompetisie deelgeneem het. Vanjaar is dít weer gedoen, dié keer met 10 kore.

Die enigste verskil was dat daar vanjaar ook ’n nasionale kykerskeuse was, waar die publiek tydens die regstreekse uitsending Sondag vir hul gunstelingkoor kon stem. Die kykerskeuse was Laerskool Kragbron in eMalahleni (Witbank).

Die senior koor van Kruinsig met hul wentrofee.

Antoinette Nightingale, koordirigent van Laerskool Kruinsig, was in “ekstase met die oorwinning”.

Sy sê dis dubbel so lekker dat albei die kore wat sy afrig, junior en senior, as wenners in die formele afdeling aangewys is. Albei dié kore het ook ’n derde plek tydens die onlangse Wêreldkoor-olimpiade in Pretoria behaal.

“Ons het so vrek hard gewerk. Dis fantasties!”

Hennie Loock, wat vanjaar met die Tygerberg-kinderkoor as kampioene by die Wêreldkoorspele in Pretoria gekroon is, het as gasbeoordelaar tydens die regstreekse uitsending by die Open Window-arena opgetree.

Loock het oor Laerskool Kruisig se senior koor gesê hy is stomgeslaan deur hul vertoning.

“Dis wêreldklas. Dis verbysterend en asembenewend.”

In aksie op die verhoog, Kruinsig se junior koor. Foto: Odette Ashby

 

Die senior koor tydens hul regstreekse optrede Sondagaand. Foto: Odette Ashby

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button