NewsSchools

KYK: Kempies neem afskeid van hul hoof

“Ek het gedoen wat ek moes en is nou reg vir die volgende hoofstuk,” het die hoof gesê.

Na 41 jaar as onderwyser, waarvan hy 26 jaar by Hoërskool Kempton Park bestee het, hang skoolhoof Roelof Burger (65) nou sy hoed op. “Ek het ’n ongelooflike tyd by Kempton gehad,” gesels die Glen Marais-inwoner oor ’n koppie koffie in sy ruim kantoor.

“Ek het gedoen wat ek moes en is nou reg vir die volgende hoofstuk.”

Teen die muur hang ’n portret van ’n koedoe met krulhorings. Langs die lessenaar is ’n kalender met verskeie wilde diere op, en op die boekrak staan die natuurboek The Trails of Life deur David Attenborough. Dit is geen geheim dat Burger ’n natuurliefhebber is nie.

“Kamp is in ons bloed,” vertel hy oor hom en sy vrou Petra wat hy tydens sy studies aan die Noordwes-Universiteit ontmoet het.

“Volgende jaar gaan ons vir so elf dae ’n 4×4-toer in Botswana aflê.”

Burger is ook ’n gelowige man. ’n Oomblik in sy 26 jaar by die skool wat hy altyd sal onthou is toe twee leerders na sy kantoor gekom het om vir hom te bid.

“Na een opening het ’n dogter ook na my toe gekom om te sê sy het haar hart vir die Here gegee.”

Burger het sy jare op die skoolbanke in Nelspruit bestee, waar sy pa vir die Spoorweë gewerk het. Volgens hom was hy nooit ’n uitskieter nie, maar het getrou gewerk en heelwat onderskeidings ingepalm.

“Daar was nie geld in die huis vir swot nie, toe roep ’n onnie my en sê ek moet aansoek doen vir ’n onderwysbeurs.”

Kempie skoolhoof Roelof Burger (65) deel ’n ligte oomblik met die hoofmeisie vir 2019 Kayla Meyer en hoofseun Marcus Petersen, nadat Burger afskeid van die skool geneem het.

Só het Burger ’n rekeningkunde-onderwyser geword, en toe ook later sy honneurs in hierdie vak verwerf.

Al het hy nou die aftree-ouderdom in onderwys bereik is hy nog nie gereed om finaal te groet nie.

Volgende jaar gaan hy Belgium Campus, ’n IT universiteit in Pretoria, by skole verteenwoordig. Hy beplan ook om ’n mentor te word vir onderwysstudente aan die Noordwes-Universiteit.

Wie hierdie skoolhoof se skoene gaan vul is nog nie aangekondig nie, maar Burger glo hulle sal vanjaar nog uitvind.

Sy raad aan die persoon is: “Jy moet ’n hart vir kinders hê en lief wees vir die personeel, dan sal jy ver kom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button