Oorgewig Brand-broers van Glen Marais nou ‘brandmaer’
Om gewig te verloor én af te hou, sit nie in enige man se broek nie. Ons gesels met die Brand-broers, wie se broeke heelwat losser sit as toe hulle 115kg elk geweeg het.
Glen Marais-broers Barend (43) en Mark (39) Brand was alles behalwe brandmaer toe hulle sowat twee jaar terug elk 115kg geweeg het. Die feit dat hulle die skale gekantel het, is nie al wat dié broers in gemeen het nie. Elkeen is getroud, albei het twee dogters en hulle woon ook in dieselfde sekuriteitskompleks – 110m van mekaar af, om presies te wees.
Toe Mark eendag in 2016 vir Barend sê hy gaan die Otter-roete in die Tsitsikamma aanpak, was dit dus geen verrassing dat Barend ingestem het om ook die 54km-tog te stap nie.
“Dit was altyd op my bucket list,” vertel Barend, maar verklap dat hy na dag twee tou moes ingooi. “Ek kon nie beweeg nie. Ek het toe besef dat ek in ’n slegte toestand is.”
Mark het wel die Otter voltooi, en daarna, in pure Brand-broerstyl, het die twee saam besluit om gewig af te skud.
“Ek het Slank (’n werklikheidsprogram op kykNET) gekyk en gespot dat ek myself en Barend moet inskryf,” verduidelik Mark.
En hy het. Die twee is vir die program aanvaar, het ’n 12-week mediese gesondheidsprogram gevolg, en tussen die twee van hulle 57kg afgeskud – Barend 27kg en Mark 30kg.

Volgens die broers volg hulle nou ’n gesonde leefwyse wat hulle help om die kilos af te hou.
“Voordat ek gewig verloor het, het ek net een keer ’n dag geëet, maar ek het baie geëet,” sê Barend. Nou eet hy gebalanseerde porsies regdeur die dag.
“Baie mense dink hoe ouer jy raak, hoe moeiliker is dit, maar ons is nou bewys dat jy dit kan doen,” deel Mark.
Beide oefen ses keer ’n week, maar sê hulle het glad nie geoefen toe hulle gewig afgeskud het nie.

“You can’t out-train a bad diet,” is hulle advies.
Die Brand-broers se gesonde leefwyse was so suksesvol, dat hulle na twee jaar nog steeds nie die skaal laat skrik nie.
Só gesond dat hulle vroeër vanjaar weer die Otter aangepak het, en die keer saam klaargemaak het. Volgens hulle het hulle lag-lag gestap, en ons glo dit was nie yskas toe nie.
