Local newsNews

60 goue jare saam vir Birchleigh-egpaar

Pieter het dadelik ogies gemaak vir die bruinkop-nooi van Brakpan, maar Ina wou niks weet nie.

Toe die 19-jarige Pieter Vorster van Brakpan stoorplek vir sy Ford gesoek het, het hy ses deure langsaan gaan aanklop, waar Ina (16) met die pikswart hare saam met haar ouers gewoon het.

“Dit was liefde met die eerste oogopslag,” vertel Peter, nou 82, oor sy geliefde Ina, nou 80.

’n Radio neurie saggies in hul ruim Birchleigh-huis, waar hulle op 8 November hul 60ste huweliksherdenking gevier het.

Al het Pieter van die begin af vir Ina ogies gemaak, het sy die affêre anders ervaar.

Pieter en Ina Vorster op hul troudag in Brakpan in 1958. “Moet nooit kwaad gaan slaap nie,” was Ina se raad aan jong getroudes.

“Ek het nie dadelik van hom gehou nie. Ek het hom die ou maroen-baadjie genoem, want hy het altyd so baadjie aangehad.”

Tog het die poskantoorwerker, wat later vir ’n steenkoolmaatskappy gewerk het, dit reggekry om in Ina se hart te kruip. Saam het hulle vier kinders gehad. Hul oudste dogter is agt jaar terug dood aan pankreaskanker, en hul jongste twee maande terug aan breinkanker.

“Dit het nie reg gevoel om ’n huweliksherdenkingpartytjie te hou so na aan ons jongste se dood nie,” vertel Ina.

“Maar ons is ryklik geseënd,” voeg sy by. Hulle het ook 13 kleinkinders en vyf agterkleinkinders, met nog een wat op pad is.

Volgens Pieter is dit deesdae Ina se geduld wat hy die meeste waardeer.

“Ek is tog so lief vir die ou ding,” lag hy.

Ina erken dat 60 jaar van getroud wees harde werk verg.

“Ek is hardkoppig en hy is hardkoppig, maar ons los altyd ons probleme op en ons gaan slaap nooit kwaad nie.”

Dan voeg Pieter by: “Dis met die liefde en beskerming van Liewe Jesus dat ons so gelukkig is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button