Daar sit ’n nuwe skoolhoof agter die stuur van Hoërskool Kempton Park en sy naam is Francois de Kock (49).
Dié oud-Jeugie en Laerskool Edleen-leerder sê sy lojaliteit lê nou by die blou en geel skool.
Nes die skool se leuse weet De Kock dat daar nou harde werk wag.
Hy neem oor by Roelof Burger, wat vanjaar uit die onderwys tree.
“Ek wil hê dit moet ’n hoërskool wees wat die gemeenskap dien. Leerders en personeel moet hier gelukkig wees,” vertel die pa van twee aan Express in sy kantoor.
“Gehalte onderwys is belangrik om suksesvolle jongmense die wêreld in te stuur. Hoërskool Kempton Park sal altyd na kwaliteit onderrig met toegevoegde waardes streef.”
Teen die muur hang die woorde van fisikus Albert Einstein: “Try not to become a man of success but rather try to be a man of value.”
De Kock beplan om hierdie woorde as gids tydens sy skoolhoofdae te gebruik.
“Ek het ’n passie vir onderwys en ’n passie vir kinders. Ek hoop om dit te gebruik en ’n bydra tot die samelewing te maak.”
Hierdie gelowige man weet natuurlik dat hy dit nie alleen kan doen nie.
“Ek stap ’n baie nou pad met my Skepper. My rol as skoolhoof kan ek nie sonder Hom vertolk nie.”
De Kock sê ook dat sy sukses hand aan hand sal gaan met die verhouding wat hy met personeel, leerders en ouers sal hê. “Ons moet saamwerk as ’n eenheid.”
Op die punt van sy lessenaar staan ’n bonsai en buite fluit voëls in ’n boom teen die kantoorvenster.
De Kock wou eintlik ’n weerkundige word toe hy klein was, maar sê hy was nog nooit spyt oor sy beroep nie. Sy vak het immers steeds geografie gebly.
Wanneer hy nie besig is met skoolhoofpligte nie, of tyd saam met sy dogter Leanke (16) en seun Anrich (13) spandeer nie, is De Kock ’n ywerige hardloper wat al die Comrades voltooi het. Hy speel ook graag gholf en is lief vir rugby. Hy beplan om tot ’n mate by die skool se rugby betrokke te bly.
Dít doen hy alles te danke aan goeie tydbestuur. “Wanneer iets belangrik genoeg vir jou is, sal jy tyd maak daarvoor.”
Die belang van die Kempies lê duidelik na aan die nuwe hoof se hart.
“Wees trots op jou skool,” is sy raad aan hulle, “wees trots op jouself.”
