NewsSchools

KYK: Só maak mens om Jeugie van die Jaar te wees

Een se akademiese talente ken geen perke nie en die ander is gebore om op die verhoog te wees. Een ding is seker, Tebogo en Heinrich is beskeie, hardwerkend en op pad na hoër hoogtes.

Integriteit, toewyding en honderde ure se harde werk. Dít is wat dit verg om as Jeuglander van die Jaar aangewys te word.

Vanjaar was dit Tebogo Matlou (18) van Croydon en Heinrich Greef (18) van Terenure wat met die louere weggestap het.

Express het oor koppies warmsjokolade met die twee matriekleerders gesels oor hul prestasies, wat hulle gemotiveerd gehou het en wat hulle raad vir aspirant-Jeugies is.

“Dit voel vreemd om daaroor te praat,” sê Heinrich. Beide hy en Tebogo is beskeie oor hul prestasies, waarvan daar vele is.

Hoofmeisie en akademiese reus Tebogo was vanjaar Dux-leerling. Haar 95 persent in Alpha-wiskunde tydens die November-eksamen het gesorg dat sy onder die top 20 in Suid-Afrika was.

Wanneer sy nie agter die boeke doenig was nie, kon jy haar op die netbalbane kry waar sy onderkaptein van die eerste span was. Sy is ’n gesertifiseerde skeidsregter en praat Sepedi, Afrikaans en Engels vlot.

“My gesin was baie ondersteunend in alles wat ek gedoen het,” vertel Tebogo, wat een van sewe kinders is. “Ek het geweet wat ek wil bereik en dit het my gemotiveerd gehou.”

Dit is geen geheim dat Heinrich as kultuurdier onder die Jeugies bekendstaan nie. As Kultuurseun van die Jaar, Extravaganza-seun van die Jaar, Revue-seun van die Jaar en Afrikaanse toneelseun van die Jaar, is dit beslis ’n titel wat hy verdien.

Heinrich het ook in die koor en mannekoor gesing, aan spanredenaars deelgeneem, in ’n een-man-stuk gespeel en ’n bo 80-gemiddeld gehandhaaf.

“Daar was weke wat ek nie geweet het hoe ek dit gaan maak nie, dan het ek op my knieë gegaan en om hulp gevra,” deel hy. “My ouers was ook baie motiverend, maar het nooit druk op my geplaas nie.”

Heinrich is die jongste van drie kinders.

Vir beide hierdie presteerders was die aankondiging dat hulle Jeuglander, meisie en seun, van die jaar is, ’n verrassing.

“Vandat ek in hierdie skool ingestap het, was dit my droom,” vertel Tebogo. “Maar ons was ’n sterk groep meisies, enigiemand anders kon gewen het. Maar ek het geweet Heinrich gaan by die seuns wen,” skerts sy.

“Almal behalwe ek het geweet,” lag hy. “My doel was net om Kultuurseun van die Jaar te wen, toe roep hulle my vir Jeuglander van die Jaar. Ek was flabbergasted.”

Tebogo gaan volgende jaar aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Pretoria studeer. Heinrich wil graag filmkuns by Open Window studeer en deeltyds revue by skole afrig. Indien hierdie droom nie uitwerk nie, sal hy tandheelkunde studeer.

Voor Tebogo en Heinrich finaal hul geliefde skool verlaat, het hulle raad vir volgende jaar se Graad Agts.

“Doen soveel as wat jy kan voor matriek. Probeer dinge wat jy nooit gedink het jy sal kan doen nie,” sê Tebogo.

“Maak vriende met jou hele graad,” is Heinrich se raad. “Wees nederig en leef die waardes uit wat die skool jou leer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button