NewsSchools

KYK: Jeugies behaal 99% slaagsyfer in matriekeindeksamen

Die skool is veral verheug oor die leerders se universiteitsvrystelling wat met 21% gestyg het.

Hoërskool Jeugland is met reg verheug oor die matriekklas van 2018 se spoguitslae.

Hul harde werk het gesorg vir ’n slaagsyfer van 99%. Die skool sê hul harte gaan uit aan die twee leerders wat nie geslaag het nie.

“Ons gaan hard werk om vanjaar ’n 100% slaagsyfer na te jaag,” het die skoolhoof, dr David Morris, Vrydagoggend in sy kantoor aan Express gesê.

Buite het opgewonde skoolverlaters hul matrieksertifikate ontvang.

“Ek is baie dankbaar vir die universiteitsvrystellingpersentasie wat van 52% na 73% gestyg het. Dit maak ’n klomp deure vir die leerders oop,” het Morris bygevoeg.

Die skool is veral trots op 2018 se hoofmeisie Tebogo Matlou wat sewe onderskeidings behaal het.

Suné Marx, Dominique Fraser, Cornelius Steyn en Caitlin Slawson het almal ses onderskeidings behaal, terwyl Shani Fourie met vyf weggestap het.

Rachael Bam, Vianca Bester en Leander van Schalkwyk kan ook trots wees op hul vier vakonderskeidings.

Hier is nog foto’s

“Dit is belangrik om van dag een af hard te werk tot op die einde,” was Morris se raad aan die matriekklas van 2019.

Express het ook gesels met matrikulante Heinrich Greef (18) van Terenure en Ilonka Nel (18) van Van Riebeeck Park oor hul raad vir vanjaar se matrieks.

“Moenie dit oordink nie. Dit is nie so erg soos wat dit lyk nie,” het Ilonka geskerts.

“Glo in jouself en maak maar seker jy’t ’n paar Relicalms,” het Heinrich geterg.

 
Back to top button