Hoërskool Kempton Park se Conrad Schoeman (18) het met sy nege onderskeidings tydens die matriekeindeksamen koning gekraai.
Dié Glen Marais-inwoner, wat veral lief is vir wiskunde, het slegs agt verwag.
“Ek was onseker of ek 80% vir Engels gaan behaal, maar was baie bly toe ek sien ek het,” het hy aan Express vertel kort nadat hy sy matrieksertifikaat Vrydag by die skool se personeelkamer ontvang het.
Hy het ook onderskeidings behaal in Afrikaans, wiskunde, Alfa wiskunde, rekeningkunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap, ekonomie en besigheidstudies.
“My gunsteling vak is wiskunde. Al vandat ek klein was het ek dit geniet om probleme op te los.”
Dit is dus geen wonder dat hierdie slimkop aktuariële wetenskap aan die Noord-Wes Universiteit gaan studeer nie. Hy is reeds daar ingetrek en sien uit vir die nuwe uitdagings wat universiteitslewe vir hom sal inhou.
“Dit gaan ’n aanpassing wees om alleen te bly, maar ek is al 10 jaar deel van die Voortrekkers, so ek is redelik selfstandig,” skerts hy.
Sy raad aan die matriekklas van 2019 is om hul tyd goed te benut.
“Moenie tyd mors nie. Mense onderskat soms hoeveel dit werd is om in die klas op te let en hard te werk deur die hele jaar.”
Tydens sy voorbereiding vir die eksamen was dit die hoop om vir ’n beurs te kwalifiseer wat hom gemotiveerd gehou het. Hiervoor wag hy nog.
“Dan het my vriende en ouers my ook baie ondersteun,” voeg hy by.
Ma Trudi is met reg trots op Conrad.
“Ek het geweet hy sal agt kry en het maar net gehoop vir die negende een.”
Haar raad aan ouers met kinders in matriek is om hulle aan te moedig, te ondersteun en nie te hard op hulle te wees nie.
